Nuus 12:00
BULLETIN 5 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Oliepryse kan president Maduro se gevangeneming absorbeer te midde van oorvloedige wêreldvoorraad
# Krieket: Joe Root skitter vir Engeland in die laaste toets om die As
# En die Klopse vermaak Kapenaars weer vandag
# Internasionale oliemarkte kan onlangse wêreldwye geopolitieke onrus absorbeer ná die gevangeneming van Venezuela se president, Nicolás Maduro, met ru-oliepryse wat ondanks die krisis redelik bestendig bly. Ontleders sê Venezuela se huidige produksie vorm slegs ‘n klein gedeelte van die wêreldwye aanbod en voldoende voorraad hou die pryse in toom. Voorspellings dui op ‘n voortgesette oor-aanbod, met maatstawwe teen bykans 989-rand per vat, wat skerp prysstygings in die politieke omwenteling beperk. Markte bly egter waaksaam namate langtermyn-uitwerkings ontvou.
# Die Presidensie ontken berigte dat president Cyril Ramaphosa se vakansie na Mauritius aan boord van ‘n Beechcraft King van die Suid-Afrikaanse Lugmag ʼn geheim was en dat geen waarnemende president aangestel is nie. Die president en sy gesin was oor Kerstyd op die eiland. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die reis was nie ʼn geheim nie en die minister van Minerale Hulpbronne, Gwede Mantashe, was in beheer van die land. Hy sê Ramaphosa het self vir die reis betaal.
# Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing sê massa-skulpvisvrektes aan die Weskus is beperk tot St Helenabaai en Elandsbaai. Woordvoerder Thobile Zulu-Molobi sê rooigetye is ook sigbaar in Walkerbaai, Hermanus, hoewel daar nie vrektes aangemeld is nie. Sy voeg by dat visvrektes by die Hartenbos-riviermonding te wyte is aan rioolstorting. Zulu-Molobi waarsku die publiek om nie enige uitgespoelde seediere te eet nie:
# Krieket: Joe Root het 160 aangeteken, sy 41ste toets-honderdtal, en Engeland gelei tot ‘n eerstebeurt-telling van 384 op die tweede dag van die vyfde en laaste toets om die As teen Australië in Sydney. Dis Root se tweede honderdtal in die reeks nadat hy ook ʼn vierdepaaltjie-vennootskap van 169-lopies saam met Harry Brook opgebou het. Root en die voormalige Australiese kaptein, Ricky Ponting, is nou gelykop derde op die lys van die meeste toets-honderdtalle. Australië het teen uitskeityd 166 vir twee gehad, ‘n agterstand van 218 lopies met agt paaltjies staande.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 22-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-584-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-429-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 60-dollar-7-sent per vat.
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad sê talle strate in die middestad is vandag gesluit vir die tradisionele Tweede Nuwejaars-Klopsefees. Tienduisende toeskouers word langs die roete verwag. Die metro se verkeerswoordvoerder, Kevin Jacobs, sê Hoofweg in Groenpunt, tussen Buitengracht en Drieankerbaai-weg, asook Helen Suzman-boulevard en Grangerbaai-boulevard sal gesluit wees:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….