Nuus 11:00
BULLETIN 5 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie ontken dat president Ramaphosa se vakansie in Mauritius ‘n geheim was
# Trump dreig met militêre optrede teen Colombië
# En krieket: Joe Root skitter vir Engeland in die laaste toets om die As
# Die Presidensie ontken berigte dat president Cyril Ramaphosa se vakansie na Mauritius aan boord van ‘n Beechcraft King van die Suid-Afrikaanse Lugmag ʼn geheim was en dat geen waarnemende president aangestel is nie. Die president en sy gesin was oor Kerstyd op die eiland. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die reis was nie ʼn geheim nie en die minister van Minerale Hulpbronne, Gwede Mantashe, was in beheer van die land. Hy sê Ramaphosa het self vir die reis betaal.
# Die Departement van Basiese Onderwys verwerp bewerings dat eksamen-onreëlmatighede kenmerkend is van die openbare eksamenstelsel. Dit volg op die Vryheidsfront Plus se bewering dat die uitlekvoorval tydens die 2025 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen vertroue in die openbare onderwysstelsel ondermyn en ouers kan derhalwe onafhanklike onderwys verkies. Die departement se woordvoerder, Terence Khala, sê die opsporing van die onreëlmatighede toon die sukses van die departement se gehalteversekering en moniteringstelsels:
# Die Nasionale Seereddingsinstituut sê die soektog duur voort na 12 mense wat steeds vermis word na verdrinkingsvoorvalle langs die KwaZulu-Natalse kus. Drie het op Kersdag vermis geraak, en nege sedert Nuwejaarsdag. Die NSRI se woordvoerder, Craig Lambinon, sê die verdrinkings het plaasgevind op Pennington-strand, in Hibberdene, Umkomaas, Durban, Ballito, King Catshwayo en St. Lucia:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, dreig met militêre optrede teen Colombië. Dit volg ná die naweek se grootskaalse aanval teen Venezuela en die inhegtenisneming van president Nicolás Maduro en sy vrou. Amerika het aanvalle uitgevoer op spesifieke vaartuie wat glo die afgelope vier maande dwelms oor die Karibiese Eilande en oostelike Stille Oseaan smokkel. Meer as 110 mense is in die aanvalle dood. Trump kritiseer Colombië se linksgesinde president, Gustavo Petro:
# Krieket: Joe Root het 160 aangeteken, sy 41ste toets-honderdtal, en Engeland gelei tot ‘n eerstebeurt-telling van 384 op die tweede dag van die vyfde en laaste toets om die As teen Australië in Sydney. Dis Root se tweede honderdtal in die reeks nadat hy ook ʼn vierdepaaltjie-vennootskap van 169-lopies saam met Harry Brook opgebou het. Root en die voormalige Australiese kaptein, Ricky Ponting, is nou gelykop derde op die lys van die meeste toets-honderdtalle. Australië het teen uitskeityd 166 vir twee gehad, ‘n agterstand van 218 lopies met agt paaltjies staande.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-555-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-419-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 60-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….