Nuus 08:00
BULLETIN 5 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se brandstofprys gaan na verwagting tot sy laagste vlak in byna vier jaar daal
# Die Suid-Afrikaanse Poskantoor se aansoek om sake-redding te beëindig is steeds hangende
# En al 40 slagoffers van die Switserse ski-oord-brand op Oujaarsaand is geïdentifiseer
# Die Departement van Petroleum en Minerale Hulpbronne se jongste brandstofprys-aanpassings sal die land se brandstofprys tot die laagte in byna vier jaar laat daal. Van Woensdag af daal die petrolprys met tussen 62- en 66-sent per liter, en diesel sal tussen 137- en 150-sent per liter minder kos. Die departement se woordvoerder, Robert Maake, sê die gemiddelde internasionale petrolprys volg die dalende neiging van die ru-olie-prys:
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Solly Malatsi, het bevestig die sakereddingspraktisyns het nog nie ‘n hofaansoek ingedien om die Suid-Afrikaanse Poskantoor uit sakeredding te haal nie. Malatsi sê besprekings is aan die gang om die beëdigde verklaring vir voorlegging aan die Hooggeregshof te finaliseer. Hy het beklemtoon dat die aanstelling van ‘n nuwe SAPO-raad van kritieke belang is vir ‘n gladde oorgang. ‘n Multi-departementele taakspan is ook saamgestel om vennootskappe, bateverkope en langtermyn volhoubaarheid na die sakeredding te ondersoek.
# Altesaam 552 mense is dakloos gelaat ná ‘n brand in Khayelitsha se Phakamani-weg plakkerskamp in Kaapstad. Byna 200 hutte is verwoes in die brand in die Tsepe Tsepe-township, wat die grootste voorval in die feestyd is. Die voorsitter van Kaapstad se Ramp-risikobestuur, Charlotte Powell, sê Gift of Givers verleen hulp aan dié wat geraak word:
# Polisie in Switserland het die liggame van al 40 slagoffers uitgeken ná die brand Oujaarsaand in die Switserse ski-oord, Crans-Montana, se kroeg. Volgens ʼn voorlopige ondersoek was vonkstokkies op bottels wat te na aan die plafon gedra is, waarskynlik die oorsaak van die brand in die Le Constellation-kroeg. Honderd-en-19 ander is beseer. Die slagoffers was tussen 14 en 39 jaar oud en kom uit tien lande, wat Switserland, Frankryk, die Verenigde Koninkryk, Israel, Italië en Portugal insluit. Die polisie het met ʼn strafregtelike ondersoek teen die Le Constellation-kroeg se bestuurders begin.
# Krieket: Die Paarl Royals het ʼn oortuigende bonuspunt-oorwinning van sewe paaltjies oor MI Cape Town behaal in hul SA20-kragmeting op Nuweland. Zimbabwe se internasionale speler, Sikandar Raza Butt, het vier paaltjies platgetrek en die gashere was op 88, hul laagste SA20-telling op Nuweland, almal uit. Daarna het die Engelsman, Asa Tribe, 34 van 28 balle behaal en die besoekers het die teiken bereik met 42 balle oor. Die Royals het nou die Sunrisers Eastern Cape verbygesteek en is tweede met 13 punte, wat net twee punte minder is as die voorlopers, Joburg Super Kings.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 22-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-927-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-407-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….