Nuus 09:00
BULLETIN 4 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VN-veiligheidsraad vergader môre oor Amerika se optrede in Venezuela
# RISE Mzansi sê Amerikaanse optrede teen Venezuela oorskry alle aanvaarde norme
# En, die Grensowerheid rapporteer ‘n skerp toename in terugkerende skool- en werksreisigers
# Die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies vergader môre na Amerika Venezuela aangeval en sy langdienende outokratiese president Nicolás Maduro en sy vrou gevange geneem het. Die woordvoerder vir die VN-sekretaris-generaal, Antonio Guterres, het Saterdag gesê die Amerikaanse militêre optrede oornag skep ‘n gevaarlike presedent. Stephane Dujarric het gesê die sekretaris-generaal is diep bekommerd dat die reëls van internasionale reg nie gerespekteer word nie. Colombia, gesteun deur Rusland en China, het die vergadering van die 15-lid-raad versoek. Die Veiligheidsraad het in Oktober en Desember vergader oor die toenemende spanning tussen die Verenigde State en Venezuela.
RISE Mzansi se nasionale leier, Songezo Zibi, het intussen die Amerikaanse militêre optrede teen Venezuela veroordeel en sê dit oorskry alle aanvaarde norme. Zibi sê die ontvoering van president Nicolás Maduro en sy vrou, Cilia Adela Flores de Maduro, is onwettig. Trump het Maduro daarvan beskuldig dat hy ‘n narkotika-terroriste-organisasie bestuur. Die twee is nou in New York aangekla op terrorisme- en dwelmklagte. Hy het beklemtoon dat regerings deur verkiesings verander moet word, nie deur buitelandse ingryping nie:
‘n Regs- en regeringsnavorser Sherwyn Sean Cupido-Weaichhas waarsku ook wêreldbestendigheid is in gevaar as magtige lande die internasionale reg ignoreer. In ‘n meningsartikel vir IOL sê Cupido-Weaichhas die ontvoering van die Venezolaanse president Nicolás Maduro en sy vrou Cilia Adela Flores de Maduro ondermyn die VN-Handves, wat die gebruik van geweld teen soewereine state verbied. Hy het aangevoer dat bewerings van misdadigheid of betwiste verkiesings nie militêre optrede regverdig nie, en waarsku dat die normalisering van sulke gedrag die internasionale orde bedreig.
# Die kommissaris van die Grensbestuursowerheid, Michael Masiapato, bevestig Suid-Afrika het begin om ‘n groot toestroming van terugkerende reisigers te ontvang. Hy het by die Beitbrug-grenspos gesê die owerhede verwag om vandag meer as 18-duisend mense te verwerk. Passasiersvoertuie, busse en taxi’s word by sleutel-kontrolepunte verwerk, terwyl vragmotors afsonderlik hanteer word. Hy bevestig die werking verloop glad te midde van die verwagte spitstyd, aangesien vakansiegangers terugkeer voor hulle môre weer begin werk:
# Die Australiese polisie sê hulle sal hul teenwoordigheid by die Sydney Krieketveld versterk vir die vyfde toets om die As wat vandag begin. Dit volg nadat gewapende mans 15 mense by ‘n Hanukkah-geleentheid op die beroemde Bondi Beach op 14 Desember doodgeskiet het. Owerhede het Saterdag ‘n hoë sigbare polisieteenwoordigheid vir die geleentheid aangekondig. Maatreëls by die krieketveld, sowat vyf kilometer van Bondi Beach af, sal beamptes van die oproer-eenheid te perd en gewapende beamptes insluit. Die polisie sê hulle verwag ‘n vol skare vir die laaste toets in die reeks van vyf wat reeds deur Australië ingepalm is.
# En Sokker: Pape Gueye het twee doele aangeteken en Senegal, wat agter was, gehelp om Soedan gister met 3-1 te klop en sodoende ‘n plek in die kwarteindronde van die Afrikanasiebeker te verseker. En hoewel hulle met tien spelers moes klaarkom het Mali die oorhand oor Tunisië gekry na hulle met 3-2 in ‘n dramatiese strafdoelstryd gewen het. Senegal was in 2022 die AFCON-kampioene en word gesien as die grootste bedreiging vir die gasheerland Marokko se drome om ‘n eerste AFCON-titel in vyftig jaar te wen. Marokko kom vanaand om sesuur teen Tanzanië te staan en Suid-Afrika om negeuur teen Kameroen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….