Nuus 08:00
BULLETIN 4 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Trump sê Maduro sal vervolg word en Amerika sal Venezuela regeer tot ‘n ‘veilige’ oorgang
# DIRCO doen ‘n beroep op die VN vir ‘n Veiligheidsraadvergadering oor die aanval in Venezuela
# En rugby, die Stormers klop die Bulle net-net in hul derby, en die Leeus wen die Haaie met een punt
# President Donald Trump sê Amerika sal Venezuela regeer totdat dit veilig is vir ‘n oorgang na ‘n nuwe regering. Die VSA het Venezuela aangeval en sy langdienende president Nicolás Maduro en sy vrou Saterdag in ‘n oornagoperasie gevange geneem. Volgens ‘n amptenaar van die Amerikaanse Departement van Justisie word verwag dat Maduro Maandag sy eerste verskyning in die federale hof in Manhattan sal maak. Maduro se oënskynlike opvolger, die Venezolaanse visepresident Delcy Rodríguez, het Saterdagmiddag op Venezolaanse televisie verskyn en Maduro “die enigste president van Venezuela” genoem.
Die Internasionale Menseregte-stigting het intussen sy ernstige kommer oor die Amerikaanse militêre operasie in Venezuela uitgespreek. Trump het Maduro daarvan beskuldig dat hy ‘n narkotika-terroriste-organisasie bestuur. Die stigting het die optrede beskryf as ‘n rampspoedige mislukking van diplomasie, skending van internasionale reg en die destabilisering van internasionale orde. Hy doen ‘n beroep op soewereiniteit en globale regsbeginsels.
Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het ook kommer uitgespreek oor die Amerikaanse militêre operasies in Venezuela. Die woordvoerder van die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Crispin Phiri, het beklemtoon die ingryping ondermyn soewereiniteit en hy het die VN-Veiligheidsraad versoek om te vergader:
# Die Padverkeersbestuurskorporasie het beklemtoon dat padveiligheid ‘n gedeelde verantwoordelikheid is terwyl vakansiegangers van verskeie bestemmings terugkeer huis toe. Die woordvoerder Simon Zwane het alle bestuurders daaraan herinner dat die beskerming van hulself en ander begin met verantwoordelike padgebruik. Hy sê motoriste moet veiligheid die naweek eerste stel aangesien swaar verkeer landwyd verwag word. Hy het aan Newzroom Afrika bevestig dat wetstoepassers steeds ontplooi is:
# Rugby: ‘n Drie in die doodsnikke van die wedstryd deur die plaasvervangerstut Nthuthuko Mchunu gisteraand op ‘n volgepakte Kaapstad-stadion het aan die Stormers ‘n naelbytoorwinning van 13-8 oor hulle aartsvyande die Bulle besorg. Dit was die Stormers se agtste sege in agt wedstryde wat hulle plek boaan die punteleer verder verstewig het.
‘n Drie deur die Wêreld Juniorspeler van die Jaar Haashim Pead het ‘n dramatiese oorwinning van 23-22 gister aan die Leeus teen die Haaie in Durban besorg. Die Leeus skuif nou op na die sewende plek op die punteleer. In die ander VRK-wedstryde gister het die Glasgow Warriors vir Zebre met 47-10 vermorsel, Leinster het Connacht met 52-17 afgeransel, en Edinburgh het Benetton naelskraap met 15-14 geklop.
# En ten slotte: Die Nasionale Seereddingsinstituut het swemmers versoek om versigtig te wees tydens die springgety wat in die volgende paar dae verwag word. Dit volg terwyl die soektog voortduur na drie mans wat by die Pennington-hoofstrand en Thompson’s Bay in KwaZulu-Natal deur die see meegesleur is. Die slagoffers was onder vakansiegangers wat op Nuwejaarsdag in sterk strome vasgevang is. Craig Lambinon van die NSRI sê die tragedie het tot oproepe vir meer openbare bewusmakingsveldtogte gelei:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….