Nuus 09:00
BULLETIN 3 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Binnelandse Sake verdedig Grensbestuur se bedrywighede by Beitbrug
# Kaapstad dring aan dat sy inwoners waterverbruik verminder
# En Tesla verloor sy titel as die wêreld se grootste vervaardiger van elektriese voertuie
# Die direkteur-generaal van Binnelandse Sake, Tommy Makhode, sê die departement ondersteun die Grensbestuursowerheid se optrede met terugkerende besoekers na die feestyd. Dit volg nadat daar vroeër baie pogings was om die grens onwettig oor te steek. Makhode het by die Beitbrug-grenspos in Limpopo bewerings van mislukking deur die departement om onwettige immigrasie te stop, verwerp en gesê dit is ‘n wêreldwye uitdaging. Daar word tans regeringstrategieë, insluitend nuwe beleidshervormings, beplan:
# Die EFF in Limpopo dreig met regstappe teen die Polokwane-munisipaliteit na ‘n uitbraak van gastroïntestinale infeksies in Polokwane en Seshego. Inwoners rapporteer ernstige maagsiektes, insluitend diarree, braking, krampe en koors. Die party sê die uitbreking hou verband met verswakkende en moontlik besmette kraanwater. Gesondheidsowerhede het inwoners aangespoor om streng handhigiëne te beoefen, veilige drinkwater te verseker en mediese hulp te soek indien simptome voortduur.
# Die LUR vir Gesondheid in KwaZulu-Natal, Nomagugu Simelane, het verwagtende moeders aangespoor om alkohol en dwelms heeltemal te vermy en beklemtoon dat daar geen veilige hoeveelheid tydens swangerskap is nie. Simelane het tydens ‘n media-inligtingsessie ook kommer uitgespreek oor volwassenes wat alkohol aan minderjariges gee, na aanleiding van ‘n ontstellende video op sosiale media in die Oos-Kaap. Simelane het gewaarsku dat alkohol lewenslange breinskade en gestremdhede veroorsaak, en het gesinne en gemeenskappe versoek om kinders te beskerm en skadelike gedrag aan te meld:
# Die Stad Kaapstad doen ‘n beroep op inwoners, besighede en besoekers om nie-noodsaaklike watergebruik te verminder. Dit volg met die gemiddelde verbruik wat nou op een-duisend-en-25-miljoen liter per dag staan, en die somerteiken van 975-miljoen liter per dag oorskry. Damvlakke staan op 70,5-persent, 19,2-persent laer as verlede jaar. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, het ‘n beroep gedoen op vroeë verlagings om watersekerheid te beskerm en skielike beperkings te vermy. Hy het gevra vir bewuste gebruik, korter storttye, versigtige aanwending vir wasgoed, en tuinnatlei buite spitstye.
# Tesla het sy kroon as die wêreld se voorste vervaardiger van elektriese voertuie verloor. Die Amerikaanse firma het ‘n moeilike jaar beleef, gekenmerk deur spanning oor Elon Musk se politieke aktiwiteite en strawwe oorsese mededinging, wat verkope vir ‘n tweede agtereenvolgende jaar laat afneem het. Tesla het 1,64-miljoen voertuie in 2025 gelewer – ‘n afname van 9-persent teenoor die vorige jaar, terwyl BYD verlede jaar 2,26-miljoen voertuie verkoop het. Beleggers hoop Musk kan gestand doen aan sy ambisie om die maatskappy ‘n leier in robottaxi-dienste te maak en verbruikers te oortuig om robotte vir basiese take in huise en kantore te aanvaar.
# En krieket: Die voormalige Australiese toetskolwer, Damien Martyn toon positiewe tekens nadat hy in ‘n geïnduseerde koma met meningitis in die hospitaal opgeneem is. Die 54-jarige, wat 67 toetse tussen 1992 en 2006 en 208 eendagwedstryde gespeel het, het verlede week siek geword terwyl hy gerus het en is hospitaal toe geneem. Sy oud-spanmaat, Adam Gilchrist het vroeër gesê daar is positiewe tekens na verskeie toetse uitgevoer is. Martyn was deel van die Australiese span wat die 2003 Eendag-wêreldbeker gewen het, waar hy 88 onoorwonne lopies in die eindstryd teen Indië aangeteken het in ‘n wen-vennootskap saam met Ricky Ponting.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….