Nuus 07:00
BULLETIN 3 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa betuig sy meegevoel met die slagoffers van die Switserse brandtragedie
# SAFTU sê die Swart Ekonomiese Bemagtigingsmodel het misluk om die mynbousektor te transformer
# En krieket: Die Protea-groep vir die T20 Wêreldbeker is bekend
# President Cyril Ramaphosa het sy diep meegevoel betoon oor die lewensverlies in ‘n verwoestende brand by ‘n kroeg in die Crans-Montana-ski-oord in Switserland op Nuwejaarsdag. Volgens die jongste inligting deur amptenare het vonkelstokkies op sjampanjebottels waarskynlik die brand laat ontstaan wat ten minste 40 lewens geëis het. Presidensiewoordvoerder Vincent Magwenya sê Ramaphosa het Suid-Afrika se meegevoel en solidariteit met die Switserse volk oorgedra en sê die land betreur die tragiese voorval:
# Die Forum for South Africa sê rompslomp, korrupsie en vertragings met die toegang tot permitte en befondsing bly sakegroei belemmer en moet beslissend aangespreek word. Hy doen ‘n beroep op die skepping van inklusiewe en toeganklike platforms vir sake, waar plaaslike entrepreneurs, koöperasies en informele handelaars kan handel dryf, groei en betekenisvol aan die ekonomie deelneem. FOSA-voorsitter, Tebogo Mashilompane, sê ondersteuning vir klein, medium en mikro-ondernemings is noodsaaklik:
# Die vakbondfederasie SAFTU sê swart ekonomiese bemagtiging wat die regering ingestel het, het misluk om Suid-Afrika se mynbousektor te transformeer. Die minister van Minerale Hulpbronne en Energie, Gwede Mantashe, het in ‘n onlangse onderhoud na eienaarskapstatistieke in steenkool en mangaan verwys as bewys dat SEB historiese ruimtelike en ekonomiese gapings vernou het. Die sekretaris-generaal van SAFTU, Zwelinzima Vavi, sê selfs al is sekere eienaarskapsyfers akkuraat, dui dit nie werklike bemagtiging aan nie terwyl swartmense steeds die armste is:
# Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing het bevestig dat die rooigety wat dele van die Weskus affekteer, van die kus af wegbeweeg het. Dit volg op vroeëre waarskuwings na groot getalle dooie witmossels, seeslakke en ander skulpvisse by St. Helenabaai en Elandsbaai in die Wes-Kaap, uitgespoel het. Owerhede het gesê die voorval hou verband met ‘n skadelike algebloei wat verlammende gifstowwe produseer wat gevaarlik is vir mense. Die Departement sal voortgaan om die situasie te monitor en doen ‘n beroep op die publiek om steeds versigtig te wees.
# Krieket: Die Protea-keurders het die 15 spelers vir die Mans T20 Wêreldbeker in Indië en Sri Lanka van 7 Februarie tot 8 Maart aangekondig. Aiden Markram sal die span aanvoer. Die nuwelinge Corbin Bosch, Dewald Brevis, Tony de Zorzi, Donovan Ferreira, George Linde, Kwena Maphaka en Jason Smith is ingesluit. Kagiso Rabada keer terug na die groep nadat hy die witbal-toer teen Indië weens ‘n besering misgeloop het. Die Proteas is in Groep D saam met Afghanistan, Kanada, Nieu-Seeland en die Verenigde Arabiese Emirate, en sal hul veldtog op 9 Februarie teen Kanada begin.
# En ten slotte: Akteur en aktivis Idris Elba is deur Koning Charles die Derde in die 2026 Nuwejaars-eerbewyse tot ridder geslaan. Die ster van Britse en Sierra Leone afkoms is erken vir sy werk ter ondersteuning van jongmense en veldtogte teen mesmisdaad. Elba was medestigter van die Elba Hope Foundation, wat geleenthede skep vir minderbevoorregte jeug regoor die VK, die VSA en Afrika. Elba sê die eer behoort aan jongmense wie se stemme en veerkragtigheid steeds verandering dryf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….