Nuus 06:00
BULLETIN 23 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Finansies sê Suid-Afrika bly ‘n topbestemming vir groei en belegging
# Die Hof hoor Senzo Meyiwa se moord was ‘n kontrak-sluipmoord eerder as ‘n rooftog wat skeefgeloop het
# En krieket, die Protea-vroue is slaggereed vir Australië
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê Suid-Afrika se deelname aan globale forums soos die Wêreld Ekonomiese Forum het hul vertroue in die gees van samewerking versterk, as ‘n kritieke deel van ‘n algehele strategie om ekonomiese groei te verbeter. Die regering sê Suid-Afrika se afvaardiging na die forum het die platform gebruik om beleggers, die burgerlike samelewing en regerings sinvol te betrek, en het die boodskap oorgedra dat die land ‘n topbestemming vir groei en belegging bly. Godongwana sê lande kan baat vind by die gemeenskaplike strewe na ‘n regverdiger, meer inklusiewe en verteenwoordigende globale stelsel.
# Die ekonoom Thabi Leoka het bedank as raadslid van Anglo American Platinum nadat haar doktorsgraad in twyfel getrek is. Amplats sê sy vertrek om aandag te gee aan haar gesondheid. Leoka, wat ook op die Presidensiële Adviesraad gedien het, het verlede week ten sterkste ontken dat sy gelieg het oor haar doktorsgraad van die London School of Economics. Sy het ook bewerings verwerp dat dit die rede is dat sy uit Remgro se raad bedank het. Netcare het vroeër erken hy het nie aandag gegee aan ‘n verslag wat haar hoogste kwalifikasie as ‘n meestersgraad aangegee het nie.
# Die Hooggeregshof in Pretoria moes gister hoor bewyse wat onder eed verkry is, toon die noodlottige skietdood van Bafana Bafana-kaptein, Senzo Meyiwa, was ‘n kontrak-sluipmoord en nie ‘n rooftog wat skeefgeloop het nie. Dit is volgens die beëdigde verklaring deur die hoofondersoeker in die moord, Bongani Gininda. Vyf mans word aangekla van Meyiwa se moord in 2014 in Vosloorus. Gininda het gister tydens kruisondervraging gesê bewyse onder eed het aan die lig gebring daar was vyf verdagtes wat die kontrakmoord op Meyiwa aktief beplan en uitgevoer het:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen, versoek die Hooggeregshof in die provinsie om Maandag die dwelm-magnaat Fadwaan Murphy se aansoek om verlof tot appèl van die hand te wys. Hy is tot 18 jaar tronkstraf gevonnis en met twee-miljoen-rand beboet terwyl sy eksvrou, Shafieka Murphy, tot 15 jaar gevonnis is. Hulle het tereggestaan op 229 aanklagte, insluitend dwelmhandel en geldwassery. Allen glo die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad is deurslaggewend in die handhawing van wet en orde en die bekamping van misdaad:
# Die eerste malaria-inentingsveldtog vir kinders, onderskryf deur die Wêreldgesondheidsorganisasie, het in Afrika begin. Die globale inentings-alliansie, Gavi, het met Afrikalande saamgewerk vir die veldtog, wat gister in Kameroen begin het. Die entstof is ontwikkel deur die Britse maatskappy, GSK, en sal in twaalf lande versprei word. ‘n Tweede entstof van die Universiteit van Oxford, word geproduseer deur die Serum-instituut van Indië en sal in Mei aan sewe lande gelewer word. Die hoof-programbeampte van Gavi, Aurélia Nguyen, sê hierdie sleuteloomblik in die stryd teen malaria sal verligting bied aan families en gesondheidsorgstelsels.
# Krieket: Die veelsydige speler van die Protea-vroue en die Lions, Chloé Tryon, sê sy het hard gewerk om van ‘n liesbesering te herstel. Sy is baie ingenome om weer terug te wees by die nasionale span op hulle toer na Australië wat Saterdag begin. Die toer bestaan uit ʼn T20- en ʼn eendagreeks asook ʼn eenmalige toetswedstryd. Die 29-jarige Tryon se laaste verskyning vir Suid-Afrika was in die suksesvolle tuisreeks teen Nieu-Seeland in Oktober verlede jaar, toe sy die Proteas gehelp het om ʼn oorwinning van 2-1 in die eendagreeks te behaal, voor hulle met een elk gelykop gespeel het in die T20-reeks wat deur reën ontwrig is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-19-sent teen die dollar, 20-rand-88-sent teen die euro en 24-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 39-duisend-739-dollar-71-sent. Die prys van goud is twee-duisend-20-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….