Nuus 15:00
BULLETIN 2 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die liggaam van ‘n tweede swemmer wat in KZN verdrink het, word herwin
# Swaar reën, stormwaarskuwings word uitgereik vir die sentrale en oostelike dele van Suid-Afrika
# En, die rand bereik sy sterkste vlak sedert 2022
# IPSS Medical Rescue het bevestig ‘n tweede liggaam, díe van ‘n 21-jarige, is herwin na ses swemmers by Main Beach in Pennington, KwaZulu-Natal, deur die see weggevoer is. Twee swemmers is gered, met twee wat steeds vermis word. Samantha Mayrick van IPSS sê soek- en reddingspanne gaan vandag voort met hul soektog. Sy sê voorts ‘n soektog is ook aan die gang na ‘n swemmer by Thompson’s Bay in Ballito wat in die moeilikheid beland het:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku teen meer reën en donderstorms oor die sentrale en oostelike van Suid-Afrika, insluitend Gauteng, die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Mpumalanga, en dele van die Oos-Kaap en Noordwes. Die Weerdiens waarsku hewige donderstorms kan lei tot stortreën, hewige weerlig, klein haelkorrels en gelokaliseerde oorstromings. Die weste sal na verwagting meestal droog en baie warm bly. Inwoners word versoek om waaksaam te wees en amptelike weervoorspellings te moniteer.
# Die rand het sy sterk vertoning in die nuwe jaar voortgesit en is op sy stewigste vlak sedert 2022. Dit het vanoggend teen 16 rand-52 sent verhandel terwyl dit die afgelope naweek amper deur die vlak van 16 rand-50 sent gebreek het. Die hoofekonoom van Investec, Annabel Bishop, sê die land se fundamentele groeifaktore kry al meer vastrapplek, wat beleggersvertroue versterk. Dit word ondersteun deur verbeterde sentiment met SA se verwydering van die gryslys en die werk aan die uitwissing van korrupsie. Sy het bygevoeg dat dié ontluikende tekens na verwagting in 2026 sal versterk.
# Verskeie mense is dood tydens onrus in Iran, waar die Islamitiese Republiek deur die ergste protesoptrede in drie jaar getref is. Die verslegtende ekonomiese toestande in die land het tot geweld in verskeie provinsies gelei. Die nuusagentskap Fars berig drie betogers is dood en 17 beseer tydens ‘n aanval op ‘n polisiestasie in Iran se westelike provinsie Lorestan. Nog ‘n sterfte is in die westelike stad Kuhdasht bevestig, met Hengaw wat nog een in die sentrale provinsie Isfahan aangemeld het.
# Rugby: Die Stormers se direkteur van rugby, John Dobson, het sy kontrak vir vier jaar verleng. Die Kaapse klub sê Dobson sal voortbou op sy prestasies sedert hy in 2020 as hoofafrigter oorgeneem het, deur die ambisieuse planne uit te voer, wat as deel van Projek 2029 in plek is. Dobson sê hy was nog nooit meer energiek om ‘n uitdaging aan te pak nie. Die Stormers is tans onoorwonne in alle kompetisies in die 2025/2026-seisoen en is met 32 punte bo-aan die punteleer van die Verenigde Rugbykampioenskap.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-37-sent teen die euro en 22-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-587-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-395-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….