Nuus 13:00
BULLETIN 2 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Meer as 700 ondersoeke is deur die Openbare Beskermer in die 3de kwartaal van 2025/2026 afgehandel
# Meer as 1 000 verdagtes in hegtenis geneem vir misdade regoor Gauteng
# En, ‘n Ekonomiese groep moedig huishoudings aan om versigtig in 2026 te spandeer te midde van stygende lewenskoste
# Die Kantoor van die Openbare Beskermer het in die derde kwartaal van die 2025/2026-boekjaar tot 31 Desember 2025, 768 ondersoeke afgehandel. Dit het 638 klagtes oor dienslewering, 107 sake oor goeie bestuur en integriteit en 23 sake van vroeë oplossing ingesluit. Die woordvoerder van die Openbare Beskermer, Mothebe Mokgatlhe, sê die nuwe teiken om klagtes deur alternatiewe geskil-beslegtingsmeganismes op te los, het vrugte afgewerp, met 41,3-persent van die klagtes wat daarvolgens afgehandel is:
# Die polisie in Gauteng het minstens eenduisend-160 mense in hegtenis geneem vir verskeie misdade tydens Oujaarsaandvieringe en Nuwejaarsdag. Die verdagtes is gearresteer vir misdade wat wissel van die besit van ongelisensieerde vuurwapens, dronkbestuur en dwelmhandel tot diefstal. Polisiewoordvoerder, Dimakatso Nevhuhulwi, sê inspeksies is ook by drankwinkels uitgevoer om nakoming van die Gautengse Drankwet te verseker:
# Mervyn Abrahams van die Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity Group spoor huishoudings aan om versigtig te spandeer aangesien die druk van bekostigbaarheid tot in 2026 sal voortduur. Die Huishoudelike Bekostigbaarheidsindeks vir Desember 2025 het ‘n daling van 1,5-persent in die voedselmandjiekoste getoon, maar basiese voedselpryse is steeds wisselvallig. Abrahams sê stygende hoender-, bees- en kookoliepryse, tesame met munisipale en elektrisiteitsverhogings, dryf huishoudings om minder te eet as wat hulle eintlike voedingbehoeftes voorskryf. Hy doen ‘n beroep vir geadministreerde pryse en finansiële waaksaamheid:
# Die Switserse polisie waarsku dit kan weke duur om almal uit te ken wat Oujaarsaand in ‘n brand in die Constellation-kroeg dood is. Nagenoeg 40 mense is dood en 115 beseer toe ‘n brand in die gewilde ski-oord-kroeg uitgebreek het. Verskeie mense word steeds vermis. Die ondersoek na die oorsaak van die brand duur voort, maar daar word bespiegel dit het dalk begin toe kerse bo-op sjampanjebottels die plafon aan die brand gesteek het. Switserland se president, Guy Parmelin, het die dodelike voorval as een van die land se grootste tragedies beskryf.
# Tennis: Die vyf-en-veertigjarige Venus Williams is as die agtste en laaste vroue-promotorskeuse vir die Australiese Ope aangewys. Die sewemalige Grand Slam-kampioen, wat laas in 2021 by Melbourne Park gespeel het, sal die oudste vrouespeler word om aan die toernooi se hooftrekking deel te neem. Williams sal voorberei vir die eerste Grand Slam van die jaar by die Hobart internasionale toernooi, waar sy ook ‘n promotorskeuse is en sal aansluit by mede-majorkampioene Barbora Krejcikova en Emma Raducanu.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-38-sent teen die euro en 22-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-015-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-390-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….