Nuus 10:00
BULLETIN 2 Januarie 10 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra vir deursigtigheid oor die multinasionale vlootoefening
# ’n Massa-verdrinking in KwaZulu-Natal eis twee met nog twee wat vermis word
# En Suid-Afrikaanse stede het van die laagste veiligheidsgraderings op die vasteland gehad in 2025
# Die DA versoek ‘n volledige parlementêre inligtingsessie oor die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se komende multinasionale vlootoefening Will for Peace 2026. Die oefening wat deur China gelei en deelname deur Rusland en Iran sal insluit, behels gesamentlike maritieme veiligheids- en inter-bedryfsoefeninge asook maritieme beskermingsoperasies. Chris Hattingh van die DA sê hulle soek antwoorde oor die doelwitte, koste en implikasies van die vlootoefening:
# President Cyril Ramaphosa het Suid-Afrikaners verseker die aanbevelings van die Madlanga-kommissie van ondersoek sal ten volle geïmplementeer word. Hy het die kommissie in Julie verlede jaar tot stand gebring om misdade, politieke inmenging en korrupsie in die strafregtelike stelsel te ondersoek. Die president het verlede maand die kommissie se tussentydse verslag ontvang, wat nie bekend gemaak sal word nie. Ramaphosa het in sy Nuwejaarsboodskap gesê die kommissie se aanbevelings sal help om vertroue in die integriteit van die polisie te herstel:
# Die soektog na twee vermiste swemmers word vandag hervat, nadat hulle vermoedelik deur die see weggevoer is by die Pennington-hoofstrand aan die KwaZulu-Natalse suidkus. Drie mense is gered en twee is dood tydens ‘n massa-verdrinkingsvoorval Donderdag. Craig Lambinon van die Nasionale Seereddingsinstituut sê die polisie het ‘n geregtelike ondersoek begin na die dood van die twee slagoffers:
# Sokker: Die Chelsea-afrigter, Enzo Maresca, het die klub verlaat na 18 maande in beheer. Die 45-jarige Italianer, wie se kontrak tot 2029 sou strek, vertrek nadat hy die Londense klub aan die einde van sy eerste seisoen by Stamford Bridge na die Klubwêreldbeker gelei het. Die Blues het slegs een van hul laaste sewe Premierliga-wedstryde gewen en is 15 punte agter die voorloper Arsenal. Die Strasbourg-afrigter Liam Rosenior is die belangrikste aanspraakmaker om Maresca te vervang. Chelsea speel Sondag teen Manchester City.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-41-sent teen die euro en 22-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-767-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-378-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-12-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Afrikaanse stede oorheers Afrika se swakste veiligheidsranglys in 2025. Dit volg terwyl veiligheid vinnig ‘n mededingende voordeel word vir Afrika-stede wat beleggings nastreef. Volgens Numbeo-data, die wêreld se grootste bron vir lewensgehalte-data, is Pretoria weens volgehoue misdaaduitdagings heel laaste, gevolg deur Johannesburg, Durban, Gqeberha en Kaapstad. Kigali in Rwanda, Tunis in Tunisië, Addis Abeba in Ethiopië, Rabat en Casablanca in Marokko was teen die einde van 2025 die veiligste groot Afrika-stede, wat beleggers, geskoolde professionele persone en toeriste lok.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….