Nuus 08:00
BULLETIN 2 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen sê die DA is vasbeslote om te veg vir dringende hervormings in die regering van nasionale eenheid
# Die VF Plus moedig Suid-Afrikaners aan om in die plaaslikeregeringsverkiesing te stem
# En Rusland beweer hy het bewyse dat Oekraïne Putin se privaatwoning teiken
# Die DA-leier John Steenhuisen sê sy party is verbind tot die stryd om dringende hervormings binne die regering van nasionale eenheid om te verseker dat geleenthede vir baie Suid-Afrikaners uitgebrei word. Hy het in sy Nuwejaarsboodskap verklaar die DA se prioriteite in 2026 bly duidelik, naamlik dienslewering, werkgeleenthede, veiligheid en die bekamping van korrupsie. Steenhuisen het kiesers aangemoedig om vir die komende plaaslike regeringsverkiesing te registreer:
Die leier van die VF Plus, Corné Mulder sê intussen die komende 2026 plaaslike regeringsverkiesing van 2026 is ‘n maak-of-breek oomblik vir Suid-Afrika. Hy waarsku dat mislukte munisipaliteite, stygende skuld en swak dienslewering die dringende behoefte aan verandering beklemtoon. Mulder dring aan burgers moet vir koalisieregerings stem, wat volgens die party suksesvol bewys is in die verbetering van regering, die herstel van basiese dienste en die verteenwoordiging van die waardes en belange van plaaslike gemeenskappe:
# Die Russiese Ministerie van Verdediging het bewyse vrygestel dat Oekraïne hommeltuie gebruik het om Dinsdag president Vladimir Putin se privaat woning langs die Valdai-meer in die noordweste van Moskou te teiken. Die ministerie sê spesialiste het toegang verkry tot die navigasiestelsel in een van die hommeltuie wat na bewering in die aanval gebruik is, en die data bevestig Putin se woning was die teiken. Die ministerie sê as gevolg van die voorval sal die regering sy standpunt oor voortgesette vredesonderhandelinge hersien. Oekraïne ontken die aantyging ten sterkste.
# Sokker: Die regering van Gaboen het die nasionale span tot verdere kennisgewing geskors en afrigter Thierry Mouyouma afgedank nadat hulle tydens die groepfase van die Afrikabekertoernooi in Marokko uitgeskakel is. Die span het onderaan Groep F geëindig nadat hulle al drie wedstryde verloor het. Gaboen se waarnemende minister van sport, Simplice-Désire Mamboula, het ook kaptein Bruno Ecuele Manga en Pierre-Emerick Aubameyang verban om vir die span gekies te word, al het albei die laaste groepwedstryd teen die Ivoorkus misgeloop. Die minister het die span se vertonings by AFCON as ‘n skande beskryf.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-45-sent teen die euro en 22-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-369-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-351-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-93-sent per vat.
# En ten slotte: Die Gesondheidsdepartemente in Gauteng, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en die Wes-Kaap het die eerste babas van 2026 aangeteken. Gauteng het minstens 196 babas verwelkom wat op die eerste dag van die nuwe jaar gebore is, waarvan 90 seuns en 106 meisies was, insluitend twee stelle tweelinge. In KZN is ongeveer 144 nuwe babas gebore, die Oos-Kaap het die geboorte van nagenoeg 102 babas gevier, en die Wes-Kaap 28, wat in openbare gesondheidsfasiliteite regoor die provinsie gebore is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….