Nuus 07:00
BULLETIN 2 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die regering se eerste prioriteit is om korrupsie uit te roei
# Ongeveer 40 is dood na ‘n brand in ‘n kroeg by ‘n Switserse ski-oord
# En rugby: Die Haaie se tussentydse afrigter verwag ‘n moeilike kragmeting teen die Leeus
# President Cyril Ramaphosa het herhaal dat die uitroei van korrupsie die regering se eerste prioriteit is. Die Spesiale Ondersoekeenheid en die Batebeslagleggingseenheid het verlede jaar miljarde se gesteelde geld teruggevind, insluitend in die Tembisa-hospitaalskandaal, waar drie gekoördineerde sindikate verantwoordelik was vir die plundering van meer as twee-miljard-rand. Ramaphosa sê gespesialiseerde taakspanne het deurbrake gemaak teen onwettige mynbou, ontvoering, ekonomiese infrastruktuurmisdade en afpersing op bouterreine:
# Die minister van Wetenskap, Tegnologie en Innovering, Blade Nzimande, sê het Suid-Afrika bestendige vordering gemaak met die versterking van sy wetenskap- en innoveringsektor. Hy sê voortgesette belegging in navorsing, vaardighede en innovering is van kritieke belang vir ekonomiese groei en ontwikkeling. Nzimande sê die departement sal gefokus bly op die gebruik van wetenskap en tegnologie om ongelykheid, werkloosheid en armoede aan te spreek:
# Suid-Afrika se visumhervormings het ‘n agterstand van meer as 300-duisend uitstaande aansoeke suksesvol uitgewis en toegangsprosedures gemoderniseer. ‘n Nuwe elektroniese reismagtigingstelsel is nou in werking, wat verwerkingstye aansienlik verminder en baie reisigers in staat stel om aanlyn aansoek te doen en vinnig goedkeuring te ontvang. Die digitale stelsel gebruik outomatisering wat aansoeke vaartbelyn, doeltreffendheid verbeter en toerisme en sakereise bevorder.
# Ongeveer 40 mense is dood en sowat 115 ander beseer in ‘n brand tydens ‘n Nuwejaarspartytjie in ‘n kroeg by ‘n Switserse ski-oord. Die brand het omstreeks 1:30 vm. by die Le Constellation-kroeg, ‘n gewilde kuierplek vir jongmense, uitgebreek. Owerhede sê buitelandse burgers van verskeie lande is onder die slagoffers. Die streek se hoofaanklaer, Beatrice Pilloud, sê hulle is besig om die slagoffers te identifiseer en die liggame so gou as moontlik aan families terug te besorg. Die polisie sê daar is geen aanduiding dat dit ‘n terroriste-aanval was nie.
# Rugby: Die Haaie se tussentydse afrigter, JP Pietersen sê hy verwag ‘n onvoorspelbare en fisiese kragmeting teen die Leeus in hul Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd in Durban môre. Die Springbokke Ox Nche en Aphelele Fassi keer albei terug van die krukkelys om die beginspan te versterk, terwyl Manu Tshituka die plek van Phepsi Buthelezi inneem. Die slot Corne Rahl en heelagter Siya Masuku maak ook ‘n welkome terugkeer tot die 23-tal en sal albei op die bank sit. Pietersen sê hulle weet die Leeus sal ‘n werklike bedreiging inhou ten spyte daarvan dat hulle drie agtereenvolgende wedsryde verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-45-sent teen die euro en 22-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-693-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-353-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….