Nuus 15:00
BULLETIN 31 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC sluit 2025 af met die fokus op dienslewering en ekonomiese hernuwing
# Paul Mashatile beskryf Brian Hlongwa as ‘n intellektuele krag binne die ANC
# En, die maandelikse begrotingstekort neem toe in November vergeleke met verlede jaar
# Die ANC vier die einde van 2025 en die 70ste herdenking van die Vryheidsmanifes met hernude vertroue in Suid-Afrika se demokratiese staat. Die woordvoerder van die party, Mahlengi Bhengu-Motsiri, beklemtoon vordering in energie- en watersekerheid, ekonomiese heropbou, dienslewering en maatskaplike ondersteuning. Sy sê belangrike prestasies sluit in meer as 200 opeenvolgende dae van ononderbroke elektrisiteit, vervaardigingsgroei en versterkte munisipale vermoëns. Sy sê die ANC sal in 2026 op hierdie vooruitgang voortbou:
# Die adjunkpresident, Paul Mashatile het die voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng, Brian Hlongwa, onthou as ‘n toegewyde vryheidsvegter en intellektuele krag binne die ANC. Mashatile het by sy gedenkdiens in Randburg, Johannesburg, gesê Hlongwa het geglo totale ekonomiese bevryding is sentraal tot Suid-Afrika se stryd. Hy het hom beskryf as ‘n lewenslange aktivis wat gevorm is deur die jeugopstand van 1976, en wie se toewyding aan idees, dissipline en transformasie die bevrydingsbeweging en demokratiese regering versterk het:
# Suid-Afrika se maandelikse begrotingstekort het in November aansienlik toegeneem vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar. ‘n Begrotingstekort van 14,99-miljard-rand is vir November vanjaar aangeteken, wat ‘n aansienlike toename teenoor die tekort van 4,46-miljard-rand in November verlede jaar. Volgens die Tesourie sal rekordgoudpryse die moontlikheid van korporatiewe belasting verhoog, maar fisiese produksie het afgeneem en ‘n beduidende loonrekening in die openbare sektor het die fiskus onder druk geplaas. Die Tesourie hou egter vol sy langtermyn fiskale konsolidasie bly op koers , met skuld wat teen die einde van die 2025/26-siklus waarskynlik op 77,9-persent van die BBP bestendig sal bly.
# Sokker: Stellenbosch FC het die veteraanafrigter, Gavin Hunt aangestel na die vertrek van Steve Barker. Hunt is die mees ervare afrigter in Suid-Afrika se topliga en hy was in beheer van meer as ‘n duisend wedstryde oor drie dekades. Die 61-jarige was sedert 1998 elke seisoen afrigter by ‘n klub in die Suid-Afrikaanse liga in ‘n merkwaardige reeks van 28 seisoene wat vier ligakampioenskappe ingesluit het. Stellenbosch se uitvoerende hoof, Rob Benadie, sê Hunt se speler-gefokusde benadering en intieme kennis van Wes-Kaapse en Suid-Afrikaanse sokker maak hom die ooglopende aanstelling by die span.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-46-sent teen die euro en 22-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-836-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-312-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-45-sent per vat.
# En laastens, dierewelsynsorganisasies doen ‘n beroep op troeteldiereienaars om diere te beskerm teen traumatiese vuurwerkgeraas met Suid-Afrikaners wat die Nuwejaar inlui. Die woordvoerder van die Animal Anti-Cruelty League in Durban en Pietermaritzburg, Bronwyn Ablett, sê die tyd van die jaar is daar ‘n toename in brandbeserings, stres en diere wat weghardloop. Die woordvoerder van die DBV, Samantha Stelli, waarsku diere het sensitiewe ore en hulle raak dan vreesagtig. Eienaars word aangemoedig om troeteldiere binnenshuis, kalm en veilig te hou tydens vieringe:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….