Nuus 13:00
BULLETIN 31 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Korrektiewe Dienste sê daar is niks geheimsinnig rondom Vusimuzi “Cat” Matlala se verskuiwing na ‘n super-maksimumveiligheidsgevangenis nie
# Die Polisie waarsku teen misdaadsindikate wat drankies dokter by klubs, tavernes en ander ontspanningsplekke
# En, drie verdagtes is dood in ‘n skietgeveg na ‘n rooftog by ‘n taverne in KwaZulu-Natal
# Die Departement van Korrektiewe Dienste sê daar is geen geheimsinnigheid rondom die besluit om Vusimuzi “Cat” Matlala, die sakeman wat van poging tot moord beskuldig word, na die land se enigste super-maksimumveiligheidsgevangenis, die Ebongweni Korrektiewe Sentrum in Kokstad, KwaZulu-Natal, te verskuif nie. Hy is op 21 Desember van die Kgosi Mampuru-tronk in Pretoria daarheen oorgeplaas. Die departement se woordvoerder, Singabakho Nxumalo, sê die oorplasing van gevangenes van een tronk na ‘n ander hou verband met sekuriteit en operasionele eise:
# Die polisie het gewaarsku teen misdaadsindikate wat drankies by klubs, kroeë en ander ontspanningsplekke dokter om mense te beroof en in sommige gevalle, selfs niksvermoedende slagoffers dood te maak. Polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die sindikate werk op twee maniere: jong vroue word gebruik om mans te beroof, of jong vroue word dood aangetref nadat hulle partytjies bygewoon of kroeë besoek het. Sy sê verskeie gevalle is in verskillende dele van die land aangemeld, onder meer in Gauteng en Noordwes:
# Drie mans wat daarvan verdink word dat hulle ‘n taverne in Newlands-Wes, KwaZulu-Natal, beroof het, is gisteraand in ‘n skietery met die polisie dood. ‘n Woordvoerder van die Polisie, Paul Magwaza, sê vyf mans het kontant, alkohol en selfone gesteel. Toe beamptes hul ontsnappingsvoertuig wys om te stop, het die verdagtes op hulle losgebrand. Die polisie het teruggeskiet en drie is noodlottig gewond, terwyl twee gevlug het. Die polisie het beslag gelê op ‘n 9-mm-pistool, alkohol, kontant en selfone. ‘n Soektog duur voort na die twee oorblywende verdagtes.
# Krieket: Die voormalige Australiese toets- en beperkte-boulbeurte-kolwer, Damien Martyn, is in ‘n geïnduseerde koma in die hospitaal nadat hy siek geword het met breinvliesontsteking, ‘n lewensgevaarlike infeksie wat swelling van die brein veroorsaak. Die 54-jarige het tussen 1992 en 2006 vir die nasionale span gespeel, insluitend verskeie reekse om die As en Australië se Wêreldbeker-oorwinning in 2003. Gedurende sy loopbaan het Martyn vier-duisend-406 toetslopies aangeteken, met 13 honderdtalle en vyf-duisend-346 eendaglopies met vyf honderdtalle. Krieket Australië se uitvoerende hoof, Todd Greenberg, het Martyn ‘n spoedige herstel toegewens.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-61-sent teen die dollar, 19-rand-48-sent teen die euro en 22-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-425-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-316-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-17-sent per vat.
# En laastens, die Australiese eerste minister, Anthony Albanese, het erken die opgewondenheid oor die nuwe jaar word getemper deur die hartseer na die aanval op Joodse Australiërs op Bondi Beach. Vyftien mense is dood toe twee gewapende mans op 14 Desember by ‘n Joodse Hanukkah-fees op die ikoniese Sydney-strand losgebrand het. In sy Nuwejaarsboodskap sê Albanese die reaksie op die aanval maak hom optimisties oor die jaar wat voorlê:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….