Nuus 11:00
BULLETIN 31 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Korrektiewe Dienste sê daar is niks geheimsinnig rondom Matlala se verskuiwing na ‘n super-maksimumveiligheidsgevangenis nie
# Die VN-hoof vra wêreldleiers om hul prioriteite reg te kry in 2026
# En motorsport, Max Verstappen word vir die vyfde agtereenvolgende keer aangewys as F1-bestuurder van die jaar
# Die Departement van Korrektiewe Dienste sê daar is geen geheimsinnigheid rondom die besluit om Vusimuzi “Cat” Matlala, die sakeman wat van poging tot moord beskuldig word, na die land se enigste super-maksimumveiligheidsgevangenis, die Ebongweni Korrektiewe Sentrum in Kokstad, KwaZulu-Natal, te verskuif nie. Hy is op 21 Desember van die Kgosi Mampuru-tronk in Pretoria daarheen oorgeplaas. Die departement se woordvoerder, Singabakho Nxumalo, sê die oorplasing van gevangenes van een tronk na ‘n ander hou verband met sekuriteit en operasionele eise:
# Die polisie het binne ‘n week 16-duisend-692 verdagtes landwyd in hegtenis geneem as deel van verskerpte feestydoptredes. Die arrestasies tussen 22 en 28 Desember sluit verdagtes in wat verbind word met moord, verkragting, aanranding, roof, dwelmhandel en onwettige mynbou. Polisiewoordvoerder Amanda van Wyk sê besondere aandag is gegee aan alkoholverwante oortredings, met eenduisend-603 mense wat in hegtenis geneem is vir bestuur onder die invloed van alkohol of dwelms, en 963 vir onwettige drankhandel:
# Die Johannesburgse Metropolisiedepartement se taktiese reaksie-eenheid het ʼn 26-jarige Zimbabwiër gearresteer wat verbind word met ʼn reeks selfoondiefstal-voorvalle in Gauteng. In ʼn video wat sedert Maandag soos ʼn veldbrand versprei, gryp die verdagte met geweld ʼn vrou se selfoon buite ʼn restaurant in Pretoria, voor hy van die toneel vlug. Die polisiewoordvoerder, Xolani Fihla, sê inligting wat hulle tydens die verdagte se inhegtenisneming bekom het, het beamptes na sy medepligtiges gelei:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, sê die wêreld staan by ʼn kruispad en waarsku dat konflik, klimaatsverandering en sistemiese skending van internasionale wette wêreldwyd vertroue in leiers ondermyn. In sy Nuwejaarsboodskap benadruk hy die omvang van lyding in die wêreld. Hy sê meer as ʼn kwart van die mensdom leef tans in konflikgeteisterde gebiede en 200-miljoen het humanitêre hulp nodig. Guterres sê die toekoms hang af van die mensdom se gemeenskaplike moed om op te tree:
# Motorsport: Die viermalige Formule 1-wêreldkampioen, Max Verstappen, se kollegas het hom die vyfde agtereenvolgende jaar as bestuurder van die jaar aangewys. Die Red Bull-renjaer het ses van die laaste nege Grand Prix-wedrenne gewen en het die jaar voltooi, slegs twee punte agter die kampioenskap-voorloper, Lando Norris van McLaren. Norris, wat sy eerste wêreldtitel ingepalm het, is tweede op die ranglys, gevolg deur George Russell van Mercedes wat twee Grand Prix-wedrenne gewen het en sewe keer op die podium was. Oscar Piastri van McLaren en die Ferrari-renjaer Charles Leclerc voltooi die topvyf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-60-sent teen die dollar, 19-rand-49-sent teen die euro en 22-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-341-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-330-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….