Nuus 10:00
BULLETIN 31 Desember 10 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Justisie staan ‘n hofaansoek teen om die aanstelling van ‘n nuwe nasionale direkteur van Openbare Vervolging te keer
# Tafelberg Nasionale Park waarsku besoekers om versigtig te wees vir brande
# En krieket, Joburg Super Kings spog met ‘n bonuspunt-oorwinning oor Durban Super Giants
# Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling sê hy sal ‘n hofaansoek teenstaan wat ʼn interdik soek teen die aanstelling van die nasionale direkteur van Openbare Vervolging. Die regsfirma, B Xulu and Partners Incorporated, voer aan die adviespaneel wat aangestel is om die land se volgende nasionale direkteur van Openbare Vervolging te vind, het nie die amptelike beswaar teen advokaat Hermione Cronjé se kandidaatskap behoorlik oorweeg nie. Die departement se woordvoerder, Terrence Manase, sê die hofaansoek is voortydig:
# Eskom sê elektrisiteitsfoute in sy voorsieningsgebiede is hierdie feestyd sowat 40-persent hoër as in dieselfde tydperk verlede jaar. Dit word toegeskryf aan gure weerstoestande in dele van die land. Die provinsies wat die meeste geraak word, is die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Limpopo en die Vrystaat. Eskom-woordvoerder Daphne Mokwena sê in die Vrystaat is elektrisiteit na alle klante herstel, en in Limpopo na byna 90-persent:
# Tafelberg Nasionale Park vra alle besoekers en inwoners om op Oujaarsdag bewus te wees van brande en verantwoordelik op te tree terwyl hulle die park geniet. Bykomende brandbestrydingsbronne word ontplooi en Volunteer Wildfire Services sal plekke waar brande maklik uitbreek, aktief patrolleer. SANParke-woordvoerder, JP Louw, sê die park se brandbestuursdienste het ‘n kommerwekkende toename in onwettige brandvoorvalle aangeteken, met sewe brande meer in Desember 2025 vergeleke met dieselfde tydperk in 2024:
# Eurostar het die tonnel wat Brittanje en Frankryk verbind gedeeltelik heropen. Eurostar en Le Shuttle se treindienste na en van Europa is gister opgeskort ná ʼn kragonderbreking weens ʼn tegniese fout, en ʼn stilstaande Le Shuttle wat alle roetes versper het. Dit het een van Europa se besigste internasionale spoor-roetes ontwrig. Eurostar sê klante sal vandag steeds aansienlike vertragings beleef. Hy voeg by passasiers kan hul planne gratis verander of kanselleer en ʼn terugbetaling of e-koepon kry.
# Krieket: Die Joburg Super Kings het hul tweede agtereenvolgende oorwinning van die SA20-seisoen behaal met ʼn bonuspunt-sege van ses paaltjies oor die Durban Super Giants op Kingsmead. Prenelan Subrayen en Richard Gleeson het elkeen drie paaltjies laat kantel en die Super Giants was op 86 almal uit. Daarna het Rilee Rossouw 43 van 32 balle aangeteken en die Super Kings het die teiken bereik met 7 boulbeurte en vier balle oor. Hulle is nou tweede op die punteleer en die Sunrisers Eastern Cape is eerste.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-60-sent teen die dollar, 19-rand-48-sent teen die euro en 22-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-408-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-325-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….