Nuus 11:00
BULLETIN 30 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ballistiese verslag verbind ‘n gekonfiskeerde vuurwapen met die massaskietery in Atteridgeville
# President Ramaphosa gee duidelikheid oor die klassifisering van geslagsgeweld en vrouemoord as ‘n nasionale ramp
# En, Benjamin Netanyahu sê Donald Trump gaan Israel se hoogste burgerlike eerbewys vir uitnemendheid ontvang
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het die multidissiplinêre span wat die Atteridgeville-massaskietvoorval ondersoek, geloof nadat hulle nog ‘n deurbraak gemaak het. Twaalf mense is doodgeskiet en 13 ander gewond toe gewapende mans vroeër die maand op mense by ʼn taverne in Saulsville losgebrand het. Die polisie het verlede week een van drie persone van belang in Limpopo gearresteer. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê hulle het tydens sy inhegtenisneming beslag gelê op ʼn gekonfiskeerde vuurwapen en ammunisie:
# President Cyril Ramaphosa sê geen tydelike magte is aan ministers toegeken nadat geslagsgeweld en vrouemoord as ‘n nasionale ramp verklaar is nie. Die president het in antwoord op ‘n parlementêre vraag deur ActionSA, gesê die klassifisering ingevolge artikel 23 van die Wet op Rampbestuur vereis nie die toekenning van tydelike magte of die uitreiking van regulasies en magtiging van hulpbrontoekennings nie. Ramaphosa sê die kabinet het in plaas daarvan vyf prioriteite aangeneem om ‘n aksieprogram te ontwikkel, wat die reaksie op geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord sal verbeter.
# Die Stad Tshwane sê die voorsiening van krag by die Olievenhoutbosch-substasie het begin, na ‘n onlangse brandvoorval. Elektrisiteit na die omliggende gebiede is reeds herstel, met die oorblywende gebiede wat geleidelik heraangesluit sal word. Gebiede soos Zwartkop, Highveld en Eco Park is deur die voorval geraak. Metrowoordvoerder, Selby Bokaba, sê die skade aan die substasie is omvattend, met verwoeste kabels en skakeltoerusting, en dit sal ‘n paar dae duur om alles veilig te voltooi:
# Die Israeliese eerste minister Benjamin Netanyahu sê die Amerikaanse president Donald Trump gaan die land se hoogste burgerlike eerbewys, die Israel-vredesprys, ontvang. Die twee leiers het Maandag by Mar-a-Lago in Florida ontmoet vir gesprekke om ‘n reeks kwessies in die Midde-Ooste uit te werk. Trump sal die eerste nie-Israeliese ontvanger van die toekenning wees. Netanyahu sê Trump ontvang die eerbewys vir sy reusebydraes tot Israel en die Joodse volk:
# Krieket: Die Sunrisers Eastern Cape spog met hul tweede bonuspunt-oorwinning nadat hulle die Pretoria Capitals in die Gqeberha met 48 lopies afgeransel het. Die speler van die wedstryd, Quinton de Kock, het 77 van 47 balle behaal en die Sunrisers het in hul 20 boulbeurte 188 vir ses op die telbord geplaas. Die Nieu-Seelander, Adam Milne, het daarna vier paaltjies platgetrek en die Capitals was met twee boulbeurte oor op 140 almal uit. Die Sunrisers is boaan die SA20-ranglys terwyl die Capitals na twee wedstryde nog geen oorwinning behaal het nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-59-sent teen die euro en 22-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-294-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-367-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….