Nuus 09:00
BULLETIN 30 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Inligtingsreguleerder nader die Appèlhof oor die publikasie van die matriekuitslae
# Aware.org waarsku ouers teen minderjarige alkoholmisbruik
# En die liggaam van ‘n SANW-lid in Komatipoort gevind
# Die Inligtingsreguleerder het die Appèlhof genader om die Hooggeregshof in Gauteng se beslissing oor die publikasie van matriekuitslae uit te daag. Die hof het op 12 Desember die reguleerder se aansoek om die publikasie te keer, van die hand gewys en bevind sy argumente is onbenullig en bevat geen empiriese bewyse nie. Die Inligtingsreguleerder sê in sy aansoek by die Appèlhof die Hooggeregshof het ‘n nuwe konsep in die interpretasie en toepassing van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting aangevoer waarvoor die wetgewing nie voorsiening maak nie.
# Die Association for Alcohol Responsibility and Education waarsku ouers om dit onmoontlik te maak vir minderjariges om te drink. Die uitvoerende hoof van Aware.org, Mokebe Thulo, het reageer op ‘n video op sosiale media waar kinders tussen ses en twaalf jaar na bewering alkohol in die Oos-Kaap gebruik. Thulo het in ‘n onderhoud met Newzroom Afrika die voorval as onaanvaarbaar en ‘n ernstige bedreiging vir kinders se gesondheid en welstand beskryf. Sy het beklemtoon dat minderjariges se drinkery ‘n voortdurende maatskaplike probleem is:
# Oorskot wat moontlik dié van ʼn vermiste lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is, is in Komatipoort, Mpumalanga, op die grens tussen Suid-Afrika en Mosambiek gevind. Dit ontdekking volg na ʼn voorval op Kersdag toe twee weermaglede deur vloedwater in die Nkomati-rivier meegesleur is. Een liggaam is op Welwillendheidsdag gevind. Mpumalanga se polisiewoordvoerder, Donald Mdhluli, sê ʼn visserman het die liggaam in afgeleë deel van die rivier ontdek:
# President Donald Trump van Amerika waarsku Hamas om vinnig te ontwapen of die duiwel gaan los wees. Hy het gister in Florida met Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, beraadslaag. Die twee leiers kon nie ʼn ooreenkoms bereik oor die tweede fase van die Amerikaans-onderhandelde vredesooreenkoms in Gaza nie. Trump het die gebrek aan vordering as onbelangrik afgemaak en sê hy is nie bekommerd oor Israel se optrede in die streek nie:
# Boks: Die wêreld se tweemalige swaargewigkampioen, Anthony Joshua, is in ʼn bestendige toestand nadat hy in Nigerië in ʼn noodlottige motorongeluk betrokke was. Die Brit was ʼn passasier in ʼn voertuig wat op ʼn snelweg in die Ogun-staat naby Lagos teen ʼn stilstaande vragmotor gebots het. Die oorledenes is Joshua se beste vriende en spanmaats, Sina Ghami en Latif “Latz” Ayodele. Joshua wat van Nigeriese oorsprong is, het tyd in die land deurgebring ná sy uitklop-sege in die sesde rondte vroeër die maand teen Jake Paul in Miami.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-62-sent teen die euro en 22-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-241-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-358-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….