Nuus 08:00
BULLETIN 30 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging sê die salarisverhogings vir politici moet tred hou met inflasie
# Rusland beweer ‘n Oekraïnse hommeltuigaanval was op Putin se huis gemik
# En sokker: Bafana Bafana is deur na die AFCON-ronde van 16
# Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging kritiseer die voorgestelde 4,1-persent salarisverhoging vir openbare ampsdraers in die 2025/2026-boekjaar. Hy sê die aanbeveling is teenstrydig met die huidige sosio-ekonomiese werklikhede in die land. Die vereniging beveel ‘n inflasie-verwante verhoging van 3,1-persent aan wat in ooreenstemming met die breër werklikhede in die openbare sektor is. Hy sê enige vergoedingsaanpassing vir politici moet versigtig gebalanseer word met dienslewerings-eise, fiskale volhoubaarheid en leierskap se etiese verantwoordelikheid om openbare belange bo individuele voordeel te plaas.
# Suid-Afrika se laaste mangaansmeltery, Transalloys, in Emalahleni, Mpumalanga, het ‘n Artikel 189-kennisgewing uitgereik wat moontlike grootskaalse afleggings tot gevolg kan hê wat ongeveer 600 direkte werksgeleenthede en seweduisend lewens sal raak. Die uitvoerende hoof Konstantin Sadovnik sê hoë elektrisiteitskoste, negatiewe marges en markdruk maak sy bedrywighede onbetalend. Die aanleg bedryf tans slegs twee van sy vyf hoogoonde. Sadovnik dring aan op vinnige regeringsoptrede om werksgeleenthede te beskerm en waarsku dat herstrukturering vroeg in Februarie kan begin:
# Johannesburg se burgemeester Dada Morero sê die dubbelverdiepinggebou wat Sondag in Doornkop, Soweto, ingetuimel het, was onwettig opgerig. Drie mense, insluitend ʼn eenjarige kind, is in die voorval dood. Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het die Raad vir die Bou-omgewing opdrag gegee om onmiddellik ʼn ondersoek na die ineenstorting te begin. Morero sê hulle sal binnekort planne aankondig om inwoners in Doornkop na ʼn beter plek te verskuif:
# Rusland se minister van Buitelandse Sake, Sergei Lavrov, beweer Oekraïne het probeer om president Vladimir Putin se woning in die Novgorod-streek aan te val. Hy sê die lugafweer-afdeling het 91 langafstand-hommeltuie naby Putin se staatswoning afgeskiet en bygevoeg geen skade of ongevalle is aangemeld nie. Lavrov sê die Russiese weermag het teikens uitgekies vir wraakaanvalle. Oekraïne se president, Volodymyr Zelensky, ontken die bewerings en sê Moskou maak die storie op.
# Sokker: Suid-Afrika het Zimbabwe in Marokko met 3-2 geklop om die derde agtereenvolgende keer die Afrikabekertoernooi se uitklopronde te haal. Tshepang Moremi, Lyle Foster en Oswin Appollis se doele het Bafana Bafana se tweede plek in Groep B beklink, met Egipte in die eerste plek. Bafana-afrigter Hugo Broos sê hy is bekommerd oor hul foute, veral met die uitkloprondes wat voorlê:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-67-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 22-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-864-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-357-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….