Nuus 07:00
BULLETIN 30 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Referendum-party sê Suid-Afrika moet Somaliland as ‘n onafhanklike staat erken
# ‘n Verligting in die brandstofpryse skop 2026 op ‘n hoë noot af
# En rugby: Wessel Roux is die nuwe voorspeler-afrigter vir die Leeus
# Die Referendum-party en die Kaapse Onafhanklikheidsvoorspraakgroep doen ‘n beroep op die Suid-Afrikaanse regering om Somaliland formeel as ‘n onafhanklike staat te erken. Phil Craig van die party voer aan dat internasionale reg die reg op selfbeskikking waarborg en sê Somaliland funksioneer sedert 1991 onafhanklik. Die party beskuldig Suid-Afrika van selektiewe ondersteuning van selfbeskikking en dring aan op erkenning in ooreenstemming met internasionale regsbeginsels:
# Motoriste kan verligting by die brandstofpompe in Januarie verwag, gedryf deur ‘n sterker rand en laer wêreldwye oliepryse wat die koste vir huishoudings en besighede verlig. Data van die Sentrale Energiefonds voorspel noemenswaardige brandstofprysdalings, aangesien 93 oktaan petrol met 51 sent per liter kan daal, terwyl 95 oktaan met 56 sent per liter kan daal. Diesel sal na verwagting skerp daal met tussen 1,26-rand en 1,38-rand per liter, terwyl paraffien met ongeveer een-rand kan daal. Die nuwe pryse tree volgende week in werking.
# Die Wes-Kaapse LUR vir die Departement van Mobiliteit, Isaac Silekuhas, vra groter waaksaamheid op die paaie nadat 27 ongelukke en 34 sterftes tussen 22 en 28 Desember aangeteken is. Veertien voetgangers tel onder die slagoffers. ’n Woordvoerder van die Departement, Maxine Bezuidenhout, sê verkeersbeamptes het 103 arrestasies gemaak, die meeste vir dronkbestuur, en meer as driehonderd spoedoortredings aangeteken. Sy sê baie van die sterftes was voorkombaar. Sy doen ‘n beroep op padgebruikers om alkohol te vermy, stadiger te ry en kwesbare voetgangers te beskerm:
# Twee gewilde leiers in Nepal het ‘n alliansie teen gevestigde partye gevorm voor die parlementêre verkiesing in Maart. Die kletsrymer wat die burgemeester van Kathmandu geword het, Balendra Shah, bekend as Balen, het by die nasionale onafhanklike party aangesluit, gelei deur Rabi Lamichhane, ‘n voormalige TV-aanbieder wat politikus geword het. Ingevolge die ooreenkoms sal die 35-jarige Balen eerste minister word as die alliansie die verkiesing wen, terwyl Lamichhane die partyleier sal bly. Albei het belowe om die eise aan te spreek van die “Gen-Z“-betogings teen wydverspreide korrupsie in September, waarin 77 mense dood is.
# Rugby: Die Leeus het voormalige Springbok-stut Wessel Roux as die nuwe voorspeler-afrigter aangestel. Hy vervang Barend Pieterse, wat in Januarie by die Junior Bokke-bestuurspan aansluit. Roux het in 2016 by die Leeus aangesluit as afrigter en het vir byna ‘n dekade as hoofafrigter en voorspeler-afrigter vir alle junior spanne in die unie gedien. Die Leeus sal steeds probeer om ‘n uitklopplek in die Verenigde Rugbykampioenskap te verseker wanneer hulle Saterdag in Durban teen ‘n vernuwe Sharks-span onder tussentydse hoofafrigter, JP Pietersen te staan kom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-67-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 22-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-128-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-345-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….