Nuus 11:00
BULLETIN 29 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA kritiseer die komende gesamentlike vlootoefening tussen Suid-Afrika, Iran, China en Rusland
# Die Limpopo-premier bring hulde aan gewese adjunkminister Dikeledi Magadzi
# En, China hou groot militêre oefeninge naby Taiwan, wat spanning verhoog
# Die DA sê die vlootoefeninge saam met Iran, China en Rusland ondermyn Suid-Afrika se buitelandse beleid van onpartydigheid. Iran sal deelneem aan Oefening MOSI, en dis die eerste keer dat Iran by China, Suid-Afrika en Rusland aansluit vir die jaarlikse BRICS-vlootoefening. Chris Hattingh van die DA sê wat begin het as stil, militêre samewerking, het verander in geheimsinnigheid en geëindig in openlike partydigheid:
# Limpopo-premier, Phophi Ramathuba, sê die gewese adjunkminister van Vervoer en Water en Sanitasie, Dikeledi Magadzi wat gister dood is, was ‘n baken van hoop en ʼn baanbreker in elke rol wat sy vervul het. Magadzi was voorheen lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee en ʼn LUR in Limpopo, waar sy portefeuljes vir Openbare Werke, Landbou, Gesondheid, en Veiligheid en Sekuriteit beklee het. Die premier se woordvoerder, Thilivhali Muavha, sê Magadzi het haar toegewy aan openbare diens:
# Die Stad Tshwane sê die Olievenhoutbosch-substasie se opknapprojek het ʼn groot mylpaal bereik terwyl bestendige vordering gemaak word om kragvoorsiening in die gebied te stabiliseer. ʼn Brand het die substasie op Oukersaand grootliks verwoes wat dele van Centurion and Olievenhoutbosch sonder elektrisiteit gelaat het. Die metro-woordvoerder, Lindela Mashigo, sê hulle vorder met die herstel van die elektrisiteitsvoorsiening ten spyte van gure weerstoestande wat tegniese en logistieke uitdagings op die terrein veroorsaak:
# China se weermag is besig met militêre oefeninge rondom Taiwan. Die vloot, lugmag en vuurpylmagte se teenwoordigheid waarsku teen enige poging om Taiwannese onafhanklikheid te erken. Die People’s Liberation Army, die militêre vleuel van die regerende Kommunistiese Party in China, sê die oefening wat Justice Mission-2025 genoem word, is wettige en noodsaaklike optrede om China se soewereiniteit en nasionale eenheid te beskerm. Taiwan se regering veroordeel die oefeninge en beskuldig China van militêre intimidasie wat spanning verhoog en vrede in die streek ondermyn.
# Krieket: Die Engelse snelbouler Gus Atkinson sal Sondag se vyfde en laaste toets om die As teen Australië in Sydney weens ‘n besering misloop. Die 27-jarige het sy linkerdyspier beseer toe hy op die tweede dag van die Tweede Kersdag-toets in Melbourne geboul het en kon nie na die veld terugkeer nie. Engeland het die toets met vier paaltjies gewen. ‘n Plaasvervanger sal nie opgeroep word nie, wat die deur oopmaak vir Matthew Potts of Matthew Fisher, wat albei in die groep is, maar nog nie in die reeks gespeel het nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-68-sent teen die dollar, 19-rand-64-sent teen die euro en 22-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-440-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-474-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….