Nuus 09:00
BULLETIN 29 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrikaanse IT-spesialiste is teen hul wil in Thailand vasgekeer
# Die Nasionale Ondersoektaakspan wat die matriekeksamen-lekkasie ondersoek oorhandig sy voorlopige verslag
# En daar is geen groot deurbraak in die Oekraïnse vredesgesprek nadat Trump en Zelensky vergader nie
# Veertien Suid-Afrikaners is volgens berigte in Thailand gestrand en hul families vra die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking om hul veilige terugkeer te verseker. Die groep wat in Thailand as IT-spesialiste werk, sê hulle word teen hul sin daar gehou nadat hulle gereageer het op bedrieglike werksaanbiedinge wat belowend gelyk het. Die afgetrede Interpol-ambassadeur, Andy Mashaile, het die situasie op SABC as moderne slawerny beskryf:
# Die Nasionale Ondersoektaakspan wat die Departement van Basiese Onderwys aangestel het om die matriekeksamen-skandaal te ondersoek, oorhandig hierdie week sy voorlopige verslag aan minister Siviwe Gwarube. Ses-en-twintig matriekkandidate van sewe Pretoriase skole het vooraf toegang gehad tot drie vakke se vraestelle. Twee amptenare van die Departement van Basiese Onderwys is geskors. Die taakspan se ondersoek bevestig die presiese bron waar die vraestelle uitgelek is, die verspreiding daarvan en beveel stappe aan om voortaan die matriekeksamen se integriteit te beskerm.
# Eskom sê drieduisend-70-megawatt se opwekkingskapasiteit sal voor die spitstyd vanaand weer in gebruik geneem word, wat bestendige elektrisiteitsvoorsiening dwarsdeur die week sal ondersteun. Die woordvoerder van die kragverskaffer, Daphne Mokwena, sê beplande instandhouding vir die jaar is tot dusver gemiddeld vyfduisend-377-megawatt, wat 11,44-persent van die totale opwekkingskapasiteit uitmaak. Sy sê dit is aansienlik laer as die 12,16-persent oor dieselfde tydperk verlede jaar:
# President Donald Trump van Amerika sê onderhandelaars kom nader aan ‘n Oekraïnse vredesooreenkoms, maar erken netelige sake soos die grondkwessie bly ʼn probleem. Hy het gister met Oekraïne se president Volodymyr Zelensky vergader by sy Florida-oord, Mar-a-Lago. Hierdie jongste vergadering volg kort nadat Rusland die jaar se langste, volgehoue aanval op Kiëf uitgevoer het, waarin minstens twee mense dood en tientalle ander beseer is. Trump sê Rusland stel nie belang in ʼn skietstilstand wat Oekraïne sal tyd gee om ʼn referendum te hou nie:
# Tennis: In die lang verwagte 2025-weergawe van die Stryd tussen Geslagte-vertoonwedstryd het Nick Kyrgios die topgekeurde vrouespeler, Aryna Sabalenka, geklop. Die Australiër wat sedert die einde van 2022 slegs een mededingende enkelspelwedstryd gewen het, het Sabalenka van Belarus met 6-3, 6-3 in Dubai verslaan. Sabalenka se deel van die baan is met nege-persent verklein vir die belangrike kragmeting. Die reëls is ook so aangepas dat albei spelers slegs een afslaan in plaas van die gebruiklike twee vir elke punt gekry het, wat Kyrgios bevoordeel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-67-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 22-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-952-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-510-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….