Nuus 11:00
BULLETIN 28 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# SAFTU sê die jaar wat voorlê vereis hernude toewyding aan werkersregte
# ‘n Onderwysaktivis is bekommerd oor vyf-duisend Graad 1- en Graad 8-leerders wat steeds nie in Gauteng geplaas is nie
# En, Israel word die eerste land wat Somaliland formeel as onafhanklike staat erken
# Die Suid-Afrikaanse Vakbondfederasie sê die jaar wat voorlê vereis hernude toewyding tot die verdediging van werkersregte en die bevordering van die stryd teen uitbuiting, ongelykheid, korrupsie en werkloosheid. Die federasie sê vanjaar het hulle ferm gestaan as ‘n militante, onafhanklike en onwrikbare stem van die werkersklas. Asive Dyani van SAFTU sê hulle sal voortgaan om ‘n kragtige, sosialisties-georiënteerde werkersbeweging te bou wat in staat is om ware maatskaplike en ekonomiese transformasie te lei:
# COSATU vra vir ‘n dringende ingryping deur die Noordwes- en Gautengse provinsiale regerings, en die nasionale regering, om te verseker dat die werkers van North West Transport Investments hul langverwagte salarisse ontvang. COSATU se woordvoerder, Matthew Parks, sê die werkers van NTI, ‘n busmaatskappy wat deur Noordwes besit word en deur die Gautengse provinsiale regering gesubsidieer word, moet na bewering nog tot 14 maande se salarisse ontvang:
# Die onderwysaktivis, Hendrick Makaneta, sê hy is diep bekommerd dat vyfduisend-464 Gautengse Graad 1- en Graad 8-leerders steeds nie geplaas is nie net weke voor die begin van die 2026-skooljaar. Hy sê hierdie syfers verteenwoordig kinders wie se grondwetlike reg op basiese onderwys nog nie verwesenlik is nie. Makaneta sê terwyl die provinsiale Onderwysdepartement van vordering praat, lê die herhalende plasingskrisis voortdurende mislukkings in beplanning en kapasiteitsbestuur bloot, veral in hoëdrukgemeenskappe:
# Die Stad Kaapstad vra alle inwoners om versigtig en waaksaam te wees wanneer hulle vuurmaak in residensiële of openbare omgewings die feestyd. ‘n Huishoudelike brand het omstreeks middernag op Kersaand in Imizamo Yethu uitgebreek. Die burgemeesterskomiteelid vir Stedelike Mobiliteit, Rob Quintas, sê geen sterftes is aangemeld nie, maar die brand het ongeveer vyftig strukture en meer as eenhonderd inwoners van die Petersen-afdeling van die nedersetting geraak:
# Israel het gister die eerste land geword wat die selfverklaarde Republiek van Somaliland formeel as ‘n onafhanklike en soewereine staat erken het – ‘n besluit wat streeksdinamika kan hervorm en Somalië se langdurige teenkanting teen afskeiding kan toets. Eerste minister Benjamin Netanyahu het gesê Israel sal onmiddellik met Somaliland saamwerk in landbou, gesondheid, tegnologie en die ekonomie. In ‘n verklaring het hy Somaliland se president, Abdirahman Mohamed Abdullahi, gelukgewens, sy leierskap geprys en hom genooi om Israel te besoek.
# Sokker: Patrick Dorgu se eerste doel vir Manchester United het die Rooi Duiwels ‘n 1-0 oorwinning oor Newcastle besorg om Ruben Amorim se manne na die vyfde plek in die Premierliga te dryf. Die Deense internasionale speler het ‘n kringbal met sy linkervoet geskop vir die enigste doel om Newcastle se rampspoedige vertoning in wegwedstryde te vererger, ten spyte daarvan dat die besoekers die tweede helfte oorheers het. ‘n Eerste tuisoorwinning in twee maande plaas Manchester United gelyk met die vierde geplaasde Chelsea, terwyl Newcastle steeds 11de is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….