Nuus 09:00
BULLETIN 28 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC maak gereed vir sy 114-jarige vieringe
# Die Afrika-unie verwerp inisiatiewe om Somaliland as onafhanklike staat te erken
# En, ‘n motoris wat op kamera uitgevang is vir rommelstrooi, kom na vore om sy skuld te betaal
# Die ANC sê voorbereidings is aan die gang vir sy 114-jaarvieringe by die Moruleng-stadion in Noordwes op 10 Januarie. Op 8 Januarie 1912 het opperhoofde, verteenwoordigers van volks- en kerkorganisasies, en ander vooraanstaande persone in Bloemfontein bymekaargekom en die bevrydingsbeweging gevorm. Die ANC het toe sy doelwit verklaar om alle Afrikane as een volk bymekaar te bring om hul regte en vryhede te verdedig. Die ANC sê president Cyril Ramaphosa sal na verwagting die hooftoespraak by die historiese geleentheid lewer.
# Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party het die militêre ingryping deur die Amerikaanse weermag in Noord-Nigerië veroordeel. SAKP-woordvoerder, Mbulelo Mandlana, sê dit is geen verrassing nie, gegewe die onlangse reeks openbare verklarings en uitsprake deur die Amerikaanse regering wat dui op hul planne om troepe in Nigerië te ontplooi, onder die voorwendsel om Christene teen ISIS-geaffilieerde groepe te beskerm. Mandlana het ‘n beroep gedoen op onmiddellike diplomatieke optrede deur die strukture van die Afrika-Unie:
# Die ANC in die Groter Johannesburg-streek is bekommerd oor bewerings van die ActionSA-leier, Herman Mashaba wat die Stad Johannesburg beskuldig dat hy met misdadigers onderhandel sonder ‘n plan om gekaapte geboue terug te eis. ANC-woordvoerder, Mantombi Nkosi, sê die bewering is misleidend en Mashaba ignoreer sy eie rekord tydens sy ampstermyn as uitvoerende burgemeester. Sy sê Mashaba het nie die middestad teruggeëis nie en beskuldig hom daarvan dat hy sy verantwoordelikhede versaak het:
# Die Afrika-Unie verwerp ten sterkste enige inisiatief of optrede wat daarop gemik is om Somaliland as ‘n onafhanklike staat te erken. Dit volg nadat Israel die eerste land geword het om die gebied as ‘n onafhanklike staat te erken. Die voorsitter van die Afrika-Unie, Mahmoud Ali Youssouf, sê Somaliland bly ‘n integrale deel van die Federale Republiek van Somalië. Youssouf sê enige poging om die gebiedsintegriteit van Somalië te ondermyn, druis in teen die fundamentele beginsels van die Afrika-Unie. Hy sê dit skep ‘n gevaarlike presedent met verreikende implikasies vir vrede en bestendigheid regoor die vasteland.
# Krieket: Engeland se twee-dae oorwinning in die toets om die As op Tweede Kersdag sal na verwagting ‘n groot finansiële knou van tot 100-miljoen-rand vir Australiese krieket beteken. Dit is die verwagte verlies aan inkomste nadat die wedstryd op ‘n stampvol MCG geëindig het met nog drie volle dae oor. ‘n Uitverkoopte stadion met meer as 90-duisend is vir dag drie verwag, onder andere ‘n Engelse ondersteunersgroep van byna 20-duisend. Vandag se gebrek aan spel sal lei tot ‘n stortvloed terugbetalings asook verlore inkomste uit die verkoop van handelsware, kos en drankies.
# En ten slotte, die Stad Kaapstad het bevestig dat ‘n motoris wat op kamera uitgevang is vir rommelstrooi en wie se beeldmateriaal soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei het, na vore gekom het om sy skuld te betaal. Die stad se woordvoerder vir Wetstoepassing, Wayne Dyason, sê vroeër die week het die metro bewus geword van die video wat wys hoe ‘n motoris rommel strooi terwyl hy stilstaan by ‘n kruising, en ‘n persoon in ‘n ander voertuig wat hom nader, die rommel optel en dit terug in sy voertuig gooi:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….