Nuus 09:00
BULLETIN 27 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Weermaglid is dood en ‘n nog een word vermis nadat hul voertuig by Komatipoort meegesleur is
# Meer as 100 huishoudings in KwaZulu-Natal het skade gely in die verwoestende storms
# En krieket: Engeland seëvier in die 4de As-toets
# Die liggaam van ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is gevind en ‘n ander word steeds vermis nadat hulle voertuig op Kersdag meegesleur is terwyl hulle in Makadamia naby Komatipoort, Mpumalanga, gery het. Die weermagwoordvoerder, Mpho Mathebula, sê terwyl hulle roetine-patrolliepligte uitgevoer het, het hulle probeer om ‘n rivier in vloed weens die swaar reën oor te steek. Sy sê ‘n uitgebreide soek- en reddingsoperasie vir die vermiste soldaat is tans aan die gang:
# Sewe mense is dood en een beseer toe twee sedans vroeg vanoggend reg van voor gebots het op die N4-tolpad tussen Machadodorp en Belfast in Mpumalanga. Die woordvoerder van die provinsiale Departement van Gemeenskapsveiligheid, Sekuriteit en Skakeling, Moeti Mmusi, sê die oorsaak word nog ondersoek, maar voorlopige aanduidings dui op gevaarlike verbysteek en oormatige spoed as moontlike faktore:
# Die Nasionale Mynwerkersvakbond vra die regering om die ontbondelingsproses en die afhanklikheid van onafhanklike kragprodusente wat volgens die vakbond Eskom se hulpbronne dreineer, te hersien. Die Hooggeregshof in Pretoria het die skikking van 54-miljard-rand tussen Eskom en die Nasionale Energiereguleerder verwerp, na ‘n suksesvolle regsgeding deur AfriForum. NUM-woordvoerder, Khangela Baloyi, sê hulle beskou die regsgeding as ‘n onpatriotiese en teenrevolusionêre daad wat ontwerp is om die nasionale nutsmaatskappy te destabiliseer:
# Die KwaZulu-Natalse LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Thulasizwe Buthelezi, sê altesaam 125 huishoudings is in die Amajuba- en Umzinyathi-distrikte beskadig na hewige donderstorms ‘n spoor van verwoesting gelaat het. Die departement se woordvoerder, Senzelwe Mzila, sê ‘n gevaarlike weerstelsel wat gekenmerk is deur swaar reën, groot hael en stormsterk wind het gister oor die gebied voorgekom. Hy sê meer as 50 huise is heeltemal verwoes:
# Volgens ‘n nuwe studie deur die energie-dinkskrum Ember Energy was wêreldwye elektriese voertuigverkope tussen Januarie en Oktober vanjaar ‘n kwart van wêreldwye nuwe motorverkope, vergeleke met slegs drie-persent in 2019. Elektrisiteits- en data-ontleder Euan Graham sê 39 lande het ‘n elektriese voertuig verkope-aandeel van meer as 10-persent in 2025 bereik, waarvan ‘n derde buite Europa is. In 2019 was daar slegs vier lande wat die mylpaal bereik het, almal binne Europa. China het vanjaar vir die eerste keer meer as 50-persent van die verkope-aandeel bereik.
# En krieket: In ‘n verstommende ommekeer op die Melbourne Krieketveld het Engeland die vierde As-toets met vyf paaltjies gewen, deur ‘n teiken van 175 te jaag om hul eerste oorwinning van die reeks te verseker. Na die vroeë slaggat wat hulle op 114/5 gelaat het, het Joe Root (34) en Harry Brook (41) die nodige kalmte en aggressie verskaf om Engeland te laat wen. Die wenlopies is in die laaste sessie van Dag 2 geslaan, wat ‘n einde gebring het aan ‘n wedstryd waarin 35 paaltjies in net twee dae se spel geval het. Australië het al drie vorige As-toetse teen Engeland gewen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….