Nuus 13:00
BULLETIN 26 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Meer as 249 padsterftes is aangeteken sedert die begin van die feestyd
# Meer as 18-duisend reisigers is op Kersdag oor die grens na Mosambiek
# En Suid-Afrika is in ‘n nuwe wêreldwye studie as die wêreld se vrygewigste nasie aangewys
# Suid-Afrika het meer as 249 padsterftes aangeteken sedert die begin van die feestyd. Die waarnemende adjunk-direkteur-generaal van die regering, Sandile Nene, sê dit verteenwoordig ‘n afname van 30-persent in vergelyking met dieselfde tydperk in 2024. Hy doen ‘n beroep op alle padgebruikers om waaksaam te bly en die padreëls te gehoorsaam. Hy sê die regering speel sy rol om mense veilig te hou, en feestydbedrywighede sal in alle provinsies operasioneel wees om te verseker dat burgers, inwoners, vakansiegangers en ondernemings, veilig voel.
# Die Grensbestuursowerheid het op Kersdag meer as 18-duisend-450 reisigers wat Suid-Afrika na Mosambiek deur die Lebombo-grenspos in Komatipoort, Mpumalanga verlaat het, suksesvol verwerk. Die kommissaris, Michael Masiapato sê slegs 450 mense, hoofsaaklik vroue en kinders, is per hand verwerk en word tans vasgelê en uitgeklaar op die Verbeterde Bewegingsbeheerstelsel. Hy sê ongeveer 805 vragmotors wat Suid-Afrika verlaat het is by Kilometer Sewe verwerk:
# Die Oos-Kaapse LUR vir Landbou, Nonceba Kontsiwe, het boere opdrag gegee om nie diere te skuif nie, aangesien gevalle van bek-en-klouseer steeds in die provinsie aangemeld word. Sy sê ‘n bevestigde geval is nou in die Amahlathi Plaaslike Munisipaliteit opgespoor. Verdagte gevalle wat simptome toon wat ooreenstem met bek-en-klouseer, is in ander gebiede aangemeld, insluitend Mbhashe, Matatiele en die Winnie Madikizela-Mandela Plaaslike Munisipaliteit. Kontsiwe sê monsters word tans vir laboratoriumtoetse versamel:
# Die Stad Kaapstad se Geleentheidspermitkantoor hersien tans ‘n aansoek vir ‘n hersiene roete vir die Kaapstad-straatparade in 2026. Hangende die hersiening en finalisering van die veiligheids- en logistieke beplanning, sal die geleentheid op 5 Januarie 2026 in Groenpunt plaasvind. Die Stad se woordvoerder, Luthando Tyhalibongo, sê die Kaapse Klopse Karnavalvereniging het aansoek gedoen dat die optog deur die ondersteunerswandelpad af in Somersetweg en tot in Kaapstad-stadion beweeg:
# Krieket: ‘n Rekord-skare van net meer as 94-duisend het op Tweede Kersdag absolute chaos aanskou toe 20 paaltjies geval het op Dag Een van die 4de toets om die As op die Melbourne Krieketveld. Josh Tongue van Engeland het ‘n uitstekende 5/45 behaal om Australië vir 152 te kelder, maar die besoekers se vreugde was van korte duur. Engeland se kolfwerk het skouspelagtig ineengestort tot 110 almal uit teen ‘n meedoënlose aanval gelei deur Michael Neser wat 4 vir 45 geneem het. Australië het ‘n senuweeagtige laaste boulbeurt oorleef om die einde van spel te bereik met ‘n voorsprong van 46 lopies, wat die wedstryd op ‘n mespunt laat.
# En ten slotte: Suid-Afrika is op Welwillendheidsdag aangewys as die wêreld se vrygewigste nasie. Dit is volgens ‘n nuwe wêreldwye studie wat Remitly, ‘n digitale finansiële diensteverskaffer, uitgevoer het. Die studie, wat meer as vierduisend-500 mense in 25 lande betrek het, het vrygewigheid, nie deur geld of materiële gawes gemeet nie, maar deur breër menslike gedrag, insluitend empatie, emosionele ondersteuning, geduld, vriendelikheid en ‘n bereidwilligheid om ander eerste te stel. Met ‘n gemiddelde telling van 51,57-persent uit ‘n moontlike 60, het Suid-Afrika boaan die wêreldlys geland.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….