Nuus 09:00
BULLETIN 24 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# België word die jongste land om by Suid-Afrika se volksmoordsaak teen Israel aan te sluit
# Dagga, geld en selfone is by die Grootvlei Korrektiewe Sentrum in Bloemfontein gekonfiskeer
# En ‘n Britse man se Australiese visum word gekanselleer nadat hy aangekla is van die vertoon van Nazi-simbole
# België het amptelik aangesluit by Suid-Afrika se saak in die Internasionale Strafhof waarin hy beweer Israel pleeg volksmoord in die Gaza-strook. Suid-Afrika het die saak in Desember 2023 aanhangig gemaak en voer aan Israel se oorlog in Gaza skend die Verenigde Nasies se 1948-konvensie oor die Voorkoming en Straf vir Volksmoord. Ander lande, insluitend Brasilië, Colombia, Ierland, Mexiko, Spanje en Turkye het ook al by die saak aangesluit. België is een van die lande wat in September ‘n onafhanklike Palestynse staat erken het.
# Die South African Church Defenders het ʼn saak by die Gautengse Hooggeregshof aanhangig gemaak om die wettigheid van ʼn Artikel 22-komitee, wat deur die Kulturele, Godsdienstige en Taalregtekommissie gestig is, uit te daag. Die komitee wil misbruik in kerke aanspreek, insluitend finansiële uitbuiting en skadelike praktyke, en godsdienstige instellings reguleer. Die organisasie se voorsitter, Mpfariseni Mukhuba, sê die staat moet verbied word om kerke se doktrine en bestuur te reguleer:
# Amptenare van die Departement van Korrektiewe Dienste het gisteraand as deel van sy feestydveldtog, Operasie Vala, ʼn klopjag uitgevoer by die Grootvlei-tronk in Bloemfontein. Die doel is om oor die feestyd veiligheid te bevorder, sekuriteit te verskerp, en nakoming in tronke te verseker. Korrektiewe Dienste se nasionale kommissaris, Makgothi Thobakgale, sê minstens 12 selfone, geld, dagga en skerp voorwerpe is onder die artikels waarop hulle beslag gelê het:
# ʼn Britse burger wat aangekla is dat hy Nazi-simbole vertoon, se Australiese visum is teruggetrek en hy gaan moontlik na die Verenigde Koninkryk gedeporteer word. Dit volg terwyl die land toeslaan op anti-Semitisme na die massamoord op Bondi-strand. Die 43-jarige man is ook vroeër die maand aangekla dat hy op sosiale media geweld teen die Joodse gemeenskap aanhits. Die minister van Binnelandse Sake, Tony Burke, sê hulle is besig met strenger wetgewing teen haatspraak:
# Sokker: Nigerië het hul veldtog in Marokko om ʼn vierde Afrikabeker-titel te buit, met ʼn naelskraapse 2-1-oorwinning teen Tanzanië afgeskop. Semi Ajayi en Ademola Lookman se doele het die Super Eagles se sege in Groep C beklink. Ellyes Skhiri het die eerste doel behaal terwyl Elias Achouri nog twee bygedra het in Tunisië se 3-1-oorwinning teen Uganda. Die 2021-kampioene van Senegal het hul stryd om ʼn tweede titel te wen goed afgeskop toe hulle Botswana met 3-0 verslaan het, terwyl die Demokratiese Republiek die Kongo, Benin met 1-0 geklop het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-67-sent teen die dollar, 19-rand-65-sent teen die euro en 22-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-304-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-493-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….