Nuus 08:00
BULLETIN 24 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die pas aangestelde Amerikaanse ambassadeur sal ‘n pragmatiese benadering volg
# Donald Trump se naam verskyn meer gereeld in die jongste vrygestelde Epstein-dokumente
# En krieket: Laura Wolvaardt herwin haar nommer een plek in die Eendagkolfranglys vir Vroue
# Die aanstelling van die nuwe Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Brent Bozel, gaan dalk lei tot ‘n ideologiese botsing tussen Amerika en die ANC. Dis die mening van Ofentse Donald Davhie van die Sentrum vir Risiko-ontleding, wat sê Bozel sal waarskynlik ʼn pragmatiese benadering volg. Davhie glo ook Amerika sal aandring op wat hy noem dié land se wenslys met eise vir Suid-Afrika. Hy sê dit sluit in dat die saak teen Israel by die Internasionale Geregshof onttrek word, Amerikaanse sakeondernemings van BEE-regulasies uitgesluit word, en dat eiendomsregte beskerm word.
# Adjunkminister David Mahlobo het Brits se waterbehandelingsaanleg in Madibeng, Noordwes, besoek om langdurige vertragings in die opgradering aan te spreek. Mahlobo sê die munisipaliteit en Magalies Water het opdrag gekry om ‘n doeltreffendheidsverbeteringsplan in te dien, met verdere vertragings wat nie geduld sal word nie. Hy sê die opgegradeerde aanleg sal die behandelingskapasiteit van 60 tot 80 megaliter per dag verhoog, wat meer as 75-duisend huishoudings sal bevoordeel en waterbetroubaarheid verbeter:
# Die waarnemende premier van Gauteng, Jacob Mamabolo, het wetstoepassingsowerhede geprys vir die vervolging van verdagtes wat verbind word met die massaskietery in Bekkersdal, waarin tien mense dood en tien gewond is. Mamabolo het tydens ‘n besoek aan die gebied gemeenskappe aangespoor om met die polisie saam te werk en ‘n beroep gedoen op verskerpte polisiëring en optrede teen ongelisensieerde tavernes. Hy het die belangrikheid van die handhawing van die oppergesag van die reg beklemtoon en families van regeringsondersteuning verseker:
# Die jongste Jeffrey Epstein-verwante dokumente wat die Amerikaanse Justisiedepartement vrygestel het, toon president Donald Trump het meer as wat voorheen berig is, op die veroordeelde seksoortreder en finansier se privaat vliegtuig gereis. Hy was tussen 1993 en 1996 op minstens agt vlugte, insluitend minstens vier waarop Epstein se vennoot, Ghislaine Maxwell, ook teenwoordig was. Trump ontken steeds dat hy iets verkeerd gedoen het wat Epstein betref, en sy vermeende teenwoordigheid op die vlugte beteken nie ʼn misdryf nie.
# Krieket: Suid-Afrika se kaptein, Laura Wolvaardt, het weer haar plek ingeneem as nommer een op die Internasionale Krieketraad se eendagwedstryd-kolfranglys. Dit volg na Suid-Afrika se eendagreeks-oorwinning van 3-0 teen Ierland waar Wolvaardt honderdtalle in die laaste twee wedstryde gemoker het. Smriti Mandhana van Indië is tweede, gevolg deur die Australiër, Ashleigh Gardner. Die veelsydige Indiese speler, Deepti Sharma, is die eerste keer in haar loopbaan die beste T20-bouler na haar indrukwekkende vertoning in die openingswedstryd van Indië se T20-reeks teen Sri Lanka.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-68-sent teen die euro en 22-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-916-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-484-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….