Nuus 15:00
BULLETIN 23 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die sterftesyfer in die Bekkersdal-taverne skietery styg tot tien
# Die Ondersoekeenheid bevries ‘n eiendom wat met die oorlede akteur Presley Chweneyagae verbind is
# En, Rugby: Siya Kolisi weer terug by die Stormers aan einde van termyn by Haaie
# Die dodetal in die Bekkersdal-taverne-skietery wes van Johannesburg het tot tien gestyg, met tien ander wat gewond is. Die polisie sê onbekende verdagtes het Sondagoggend in die vroeë oggendure op klante by ‘n KwaNoxolo-taverne losgebrand voordat hulle gevlug en lukraak in nabygeleë strate geskiet het. ‘n E-taxi-bestuurder is onder die sterftes. Sewe van die oorledenes is Suid-Afrikaners en drie is van Lesotho. Die motief bly onbekend. Die polisie sê hulle het twee van die 12 moontlike verdagtes geïdentifiseer.
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het ‘n bewaringsbevel verkry vir ‘n huis in Pretoria wat na bewering met wanbestede geld van die Nasionale Loterykommissie-fondse gekoop is en met die oorlede akteur Presley Chweneyagae verbind word. Die bevel het betrekking op ‘n eiendom in Hesteapark. Die Spesiale Ondersoekeenheid beweer dat byna 889-duisend rand wat gebruik is om die huis te koop, gekanaliseer is van ‘n bewilliging van 15-miljoen rand wat bedoel was vir die ontwikkeling van jeugkuns. Vervolgings sal na verwagting binne 60 hofdae begin.
# Die sterftesyfer gedurende die somer-inisiasie-seisoen in die Oos-Kaap het tot 20 gestyg, met die OR Tambo-distrik wat sewe sterftes en Amathole wat vyf aangemeld het. Die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Zolile Williams, het bevestig dat 13 ingewydes wettig besny is en sewe onwettig. Williams sê die regering sal voortgaan om inisiasiekampe te monitor om volle nakoming van die Tradisionele Inisiasiewet te verseker:
# Sokker: Orlando Pirates se afrigter, Abdeslam Ouaddou, sê die Afrikabekertoernooi verhoog steeds die standaard van sokker in Afrika. Ouaddou het in Marokko die CAF-president, Patrice Motsepe, geprys vir die verbetering van organisasie, fasiliteite en veldgehalte oor die hele vasteland. Ouaddou sê hierdie verbeterings sal een van die beste Afrikabekertoernooie lewer. Hy het Bafana Bafana en die spelers ook sterkte toegewens en hulle aangespoor om hul land trots te maak:
# Rugby: Kaapstad en Stormers verwelkom die tweemalige Wêreldbeker-wenner Springbok-kaptein Siya Kolisi weer terug aan die einde van die seisoen by die Haaie. Die uitvoerende hoof van Stormers Rugby, Johan le Roux, sê Kolisi is ‘n nasionale ikoon met ‘n sterk verbintenis aan die Stormers. Hy is ook ‘n gesinsman wat soveel as moontlik daar wil wees vir sy kinders. Kolisi sê sy terugkeer na Kaapstad is ‘n belangrike oomblik vir hom en sy gesin. Die direkteur van rugby, John Dobson, sê Kolisi sal waarde tot die span toevoeg op maniere wat geen ander speler kan doen nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-68-sent teen die euro en 22-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-728-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-483-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….