Nuus 13:00
BULLETIN 23 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Blade Nzimande verwelkom SOE-ondersoek na inentingsprojekte
# Die Gautengse regering verwelkom die inhegtenisnemings na moord op DJ Warras
# En, die terugkeer van 17 jong Suid-Afrikaners wat na Rusland gelok is, word glo vertraag deur eise vir geld
# Die minister van Wetenskap, Tegnologie en Innovasie, Blade Nzimande, verwelkom die Spesiale Ondersoekeenheid se ondersoek na verkryging- en kontrakteringsprosesse wat met vier inenting-navorsingsprojekte verband hou. Die projekte sluit in die ontwikkeling van ‘n Nasionale Entstof-vervaardigingstrategie, die afhandeling van ʼn oorkoepelende entstof-ontwikkelingstrategie, en inisiatiewe wat verband hou met ʼn platform vir virusagtige deeltjies. Die departement se woordvoerder, Veli Mbele, sê die ondersoekeenheid sal bepaal of die kontrakte regverdig, mededingend en deursigtig hanteer is:
# Die Gautengse regering verwelkom die vinnige inhegtenisneming van twee verdagtes in verband met die moord op Warrick Stock, ook bekend as DJ Warras. Hy is verlede Dinsdag buite die Zambesi House-gebou in die Johannesburgse middestad doodgeskiet. Die provinsiale regering se woordvoerder, Elijah Mhlanga, sê die polisie se speureenhede in die provinsie het gewys hulle kan ingewikkelde sake oplos deur noukeurige intelligensie-operasies en ondersoekwerk:
# Die N3-Tolpadmaatskappy sê sedert die begin van die vakansie word volgehoue besige verkeerstoestande op die N3 Tolroete in Mpumalanga, Vrystaat, Gauteng en KwaZulu-Natal ervaar. Verkeersvolumes van nagenoeg 13-duisend voertuie per dag word tydens spitstye by die besige Mooi- en De Hoek-tolplazas aangeteken. Thania Dhoogra van die tolpadmaatskappy sê verkeersvolumes sal na verwagting vir die volgende paar dae voortduur, veral in ‘n suidwaartse rigting:
# Die repatriasie van 17 jong Suid-Afrikaanse mans wat na Rusland gelok is om in die oorlog in Oekraïne te veg, word na bewering vertraag deur eise vir geld van die militêre kontrakteurs wat betrokke was by hul werwing. Volgens News24 eis die kontrakteurs wat vir die Russiese leër werk ‘n terugbetaling vir die geld wat aan die MK-party en sommige van die families van die mans betaal is om hulle na Moskou te stuur. Die woordvoerder van die MK-party, Nhlamulo Ndhlela, sê hulle is nie bewus van enige versoek aan die party om enige geld terug te betaal nie.
# Motorsport: Die viermalige Formule Een-kampioen, Max Verstappen, sê verskeie faktore sal ‘n rol speel as hy in die toekoms ooit van Red Bull af sou skuif. Daar was bespiegelinge dat die 28-jarige Nederlander moontlik na Mercedes sou gaan, ten spyte daarvan dat sy bestaande Red Bull-kontrak tot aan die einde van 2028 van krag is. In ‘n onderhoud met BBC Sport sê Verstappen indien hy ooit na ‘n ander span sou skuif, sal dit wees omdat hy ‘n vinniger motor of ‘n ander omgewing nodig het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-67-sent teen die dollar, 19-rand-65-sent teen die euro en 22-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-515-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-481-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….