Nuus 09:00
BULLETIN 23 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die verlies aan uitvoerinkomste as gevolg van bek-en-klouseer beloop ongeveer 5,6-miljard-rand
# Ernstige oorstromings eis die lewens van drie mense in KwaZulu-Natal
# En Donald Trump beplan om twee nuwe oorlogskepe te bou
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê verlies aan inkomste weens die 2025-uitbreking van bek-en-klouseer in Suid-Afrika sal na raming 5,6-miljard-rand beloop. Die gemiddelde jaarlikse verlies aan inkomste is sowat 3,7-miljard-rand vir vars en gevriesde beesvleis, 1,4-miljard-rand vir bok- en skaapvleis, en 502,4-miljoen-rand vir lewendige beeste, skape en bokke. Steenhuisen sê die land se lewendehawe-bedryf staar ernstige uitvoerbeperkings in die gesig omdat sommige markte ten volle of gedeeltelik gesluit bly weens die huidige bek-en-klouseerstatus. Dit sluit China, Mosambiek en Zimbabwe in.
# Die woordvoerder van die Valke, Katlego Mogale het die beslissing van die Pretoria Handelsmisdaadhof verwelkom om nie borgtog aan die IPHC Jerusalema-faksieleier Mike Sandlana toe te staan nie. Sandlana staan tereg op aanklagte van die beweerde omkopery van ‘n Hooggeregshof-regter Portia Phahlane in ‘n kerkopvolgingsgeskil. Mogale sê die verhoor sal in Maart 2026 voortgesit word. Sy sê die suksesvolle teenstand teen die borgtogaansoek weerspieël deeglike ondersoekwerk, en die arrestasie van nog verdagtes is nie uitgesluit nie:
# Die KwaZulu-Natalse Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake sê rampbestuurspanne is op hoë gereedheid geplaas. Dit volg nadat stortreën tot oorstromings gelei het wat drie lewens geëis, en paaie en infrastruktuur beskadig het. Die drie slagoffers is dood nadat hul voertuig in Longacres Drive in Amanzimtoti meegesleur is. Die departement se woordvoerder, Senzelwe Mzila, sê die kusstrook van Margate oor Oslo-strand tot in Port Shepstone het die ergste deurgeloop:
# President Donald Trump van Amerika het aangekondig dat hy ‘n plan goedgekeur het wat die Amerikaanse vloot toelaat om twee nuwe oorlogskepe te bou. Die Trump Class USS Defiant-skepe sal deel vorm van ʼn opgeknapte “Goue Vloot” as teenvoeter vir China en ander teenstanders. Trump sê sodra dit voltooi is, sal die staalskepe toegerus word met gewere en missiele, asook hipersoniese wapens en kragtige lasers. Hy sê die vaartuie sal plaaslik gebou word:
# Krieket: Brendon McCullum sê hy wil aanbly as Engeland se afrigter en leer uit die foute van die huidige toer om die As teen Australië. Engeland is drie-nul agter in die reeks van vyf wedstryde. McCullum, wie se kontrak ná die 50-boulbeurt Wêreldbeker in 2027 verstryk, sê ander sal oor sy lot beslis, maar hy sal net aanhou probeer om sy bes te doen. McCullum se voorganger, Chris Silverwood, het vier jaar gelede nie ʼn 4-0-nederlaag oorleef nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 22-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-148-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-487-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….