Nuus 08:00
BULLETIN 23 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party verwerp die voorgestelde salarisverhogings vir politici
# Schumer wil die Amerikaanse Senaat dwing om die Trump-administrasie te dagvaar oor die Epstein-lêers
# En sokker: Bafana Bafana begin hul AFCON-veldtog met ‘n taai oorwinning oor Angola
# Die MK-party verwerp die voorgestelde salarisverhogings van vier-punt-een-persent vir openbare ampsdraers in 2025/2026. ‘n Partywoordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, noem die verhogings “moreel onverdedigbaar” te midde van Suid-Afrika se werkloosheid wat 32-persent oorskry, jeugwerkloosheid van byna 50-persent, en meer as 18-miljoen mense wat in armoede leef. Ndhlela dring daarop aan dat die regering werkskepping, maatskaplike ondersteuning en openbare dienste prioritiseer bo die verryking van die politieke elite.
# Die polisie is besig met verskerpte pogings om misdaad tydens die feestyd te bekamp. ‘n Polisiewoordvoerder, Vincent Mukhathi sê die SAPD het byna 21-duisend verdagtes landwyd in hegtenis geneem; insluitend twee-duisend vir bestuur onder die invloed, een-duisend vir onwettige drankhandel en 158 vir moord. Mukhathi sê hulle het ook 49-duisend liter alkohol en 156 vuurwapens gekonfiskeer:
# Die Gautengse Onderwysdepartement sê slegs vyf-duisend-464 leerders moet nog plek kry as deel van die 2026 aanlyn toelatings vir graad 1 en graad 8. Die departement stel daagliks plasing- en oordragaanbiedinge vry en fokus spesifiek op geïdentifiseerde hoëdrukgebiede waar vraag beskikbare aanbod oorskry. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die stelsel het ook sewe-duisend-118 laat aansoeke vir graad 1 en 8 aangeteken:
# Die senaat se minderheidsleier, Chuck Schumer, sê hy stel ‘n resolusie bekend wat die senaat dwing om met regsoptrede teen die Justisie-departement te begin weens die weiering om die volledige lêers vry te stel wat met die gevonnisde seksoortreder, Jeffrey Epstein, verband hou. Die departement het Vrydag volgens die nuwe bekendmakingswet slegs ʼn gedeelte van die Epstein-lêers vrygestel, en sê die dokumente moet nagegaan word om slagoffers te beskerm. Schumer sê Amerikaners verdien volle deursigtigheid, en hierdie administrasie kan nie toegelaat word om die waarheid weg te steek nie.
# Sokker: Bafana Bafana het hul eerste Afrikabekertoernooi met ʼn oorwinning afgeskop nadat hulle Angola met 2-1 verslaan het in ʼn opwindende Groep B-wedstryd op die Marrakesj-stadion. Oswin Appollis en Lyle Foster se doele het Suid-Afrika se oorwinning beklink. Die sewemalige kampioene, Egipte, het Zimbabwe met 2-1 verslaan terwyl Mali en Zambië se kragmeting gelykop was met een elk. Bafana-afrigter, Hugo Broos, sê hulle kon beter gedoen het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 22-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-833-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-489-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….