Nuus 07:00
BULLETIN 23 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa wysig die Spesiale Ondersoekeenheid se ondersoek na die SAL
# ‘n Mediapersoonlikheid betaal 50-duisend-rand terug aan die Nasionale Loterykommissie
# En Japan maak gereed om die wêreld se grootste kernkragsentrale weer aan te skakel
# President Cyril Ramaphosa het ‘n proklamasie van die Spesiale Ondersoekeenheid oor die Suid-Afrikaanse Lugdiens gewysig om beweerde wanadministrasie en onwettige gedrag van Januarie 2022 tot Desember vanjaar in te sluit. Die hersiene proklamasie verbreed die mandaat van die oorspronklike 2020-ondersoek. Die woordvoerder van die eenheid, Kaizer Kganyago, sê hul mandaat is versterk om enige onbekende of ongemagtigde belange wat raadslede, verkopers, werknemers, amptenare of agente moontlik met bieërs, verskaffers, kontrakteurs, beleggers, aandeelhouers of hul agente of ander verwante partye gehad het, deeglik te ondersoek.
# Die mediapersoonlikheid, Minnie Dhlamini, het 50-duisend-rand wat sy in 2016 onwettig van die Nasionale Loterykommissie via die Mshandukani-stigting ontvang het, terugbetaal. Die toelaag, wat bedoel was vir die Rio Olimpiese Spele-vertoning, is wanbestee. Die woordvoerder van die Spesiale Ondersoekeenheid, Kaizer Kganyago het bevestig dat Dhlamini het haar volle samewerking gegee. Hy het bevestig die terugbetaling is deel van die eenheid se pogings om 24-miljoen-rand se wanbestede openbare fondse te verhaal, wat aan die NLC terugbesorg sal word vir herverdeling aan wettige begunstigdes:
# Die Stad Johannesburg het bevestig bewerings dat krag na Luthuli-huis afgesny is, is vals. ‘n Stadswoordvoerder, Khathutshelo Mulaudzi beklemtoon die ANC-hoofkwartier is steeds ten volle operasioneel, met alle munisipale dienste aktief en rekeninge wat ten volle op datum is. Sy sê die verduideliking kom na wydverspreide bewerings op sosiale media oor krag wat afgesny is. Mulaudzi sê personeel en nabygeleë besighede ervaar steeds normale diens, en daar was geen ontwrigtings nie:
# Japan het gister die finale stap geneem om die wêreld se grootste kernkragsentrale toe te laat om bedrywighede te hervat na ‘n streekstemming. Dit is ‘n waterskeidingsoomblik in die land se terugkeer na kernenergie byna 15 jaar na die Fukushima-ramp. Die Kashiwazaki-Kariwa-aanleg, ongeveer 220 kilometer noordwes van Tokio, was onder die 54 reaktore wat gesluit is nadat die 2011-aardbewing en -tsunami die Fukushima-aanleg in die ergste kernramp sedert Tsjernobil verlam het. Sedertdien het Japan werksaamhede by 14 van die 33 wat steeds in werking is, hervat, terwyl hulle probeer om van ingevoerde fossielbrandstowwe weg te beweeg.
# Tennis: Die Australiër Nick Kyrgios sal volgende maand aan die Brisbane Internasionale toernooi deelneem na hy deelname as promotorskeuse ontvang het. Die voormalige Wimbledon-finalis berei hom voor vir ‘n moontlike terugkeer na die Australiese Ope. Hy is die afgelope paar jaar deur beserings geteister met slegs vyf enkelspelwedstryde in 2025 en hy is nou 673ste in die wêreld. In die aanloop tot die seisoen se eerste Grand Slam, sal hy in ‘n oefentoernooi in Melbourne speel, sowel as teen die vroue-wêreldnommer een, Aryna Sabalenka in Dubai op 28 Desember.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-70-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 22-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-740-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-469-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….