Nuus 15:00
BULLETIN 22 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Polisie arresteer ‘n verdagte in die Saulsville-taverne massaskietery
# Borgtog word geweier vir kerkleier wat van omkopery aangekla word
# En, die oorstromings saai verwoesting aan KZN Suidkus, met besighede en huise wat getref is
# Die polisie het ‘n 32-jarige man in hegtenis geneem wat verbind word met die massaskietery op 6 Desember by ‘n onwettige taverne in Saulsville, Pretoria, waarin 12 mense dood en 13 beseer is. Die verdagte is vasgekeer terwyl hy van Gauteng na Limpopo gereis het met ‘n ongelisensieerde vuurwapen en 12-rondes ammunisie. Die woordvoerder van die polisie, Athlenda Mathe, bevestig dat die verdagte in die Landdroshof van Polokwane verskyn het en dat ‘n verdere twee verdagtes steeds op vrye voet verkeer:
# Die leier van die Internasionale Pinkster-Heiligheidskerk, Mike Sandlana, is borgtog geweier deur die Handelsmisdaadhof in Pretoria. Sandlana word daarvan aangekla dat hy regter Portia Phahlane van die Pretoria Hooggeregshof na bewering omgekoop het in ‘n kerkopvolgingsgeskil. Die staat het borgtog teengestaan en nuwe bewyse aangebied wat hom daarvan beskuldig dat hy mediese toestande oordryf het. Landdros Nica Setshogoe het beslis Sandlana kon nie bewys dat sy vrylating in die belang van geregtigheid was nie, met verwysing na ‘n vlugrisiko, valse getuienis en die intimidasie van getuies:
# Swaar reën en oorstromings het groot skade aan KwaZulu-Natal se Suidkus veroorsaak, wat Port Shepstone en omliggende gebiede raak. Verskeie besighede is gedwing om te sluit, met huise wat oorstroom is. Rampbestuurspanne is ontplooi om met opruimingswerk te begin. Die woordvoerder vir KZN se Departement vir Samewerkende Regering, Senzelwe Mzila, sê die kusgebied vanaf Margate tot Port Shepstone is die swaarste getref. Volgens voorlopige berigte is niemand beseer nie.
# ‘n Russiese generaal is vroeër vandag in die suide van Moskou in ‘n motorbomaanval dood. Die bom het onder ‘n Kia Sorento ontplof wat bestuur is deur luitenant-generaal Fanil Sarvarov, hoof van die Russiese direktoraat vir operasionele opleiding van die leër, toe hy vroeg vanoggend ‘n parkeerplek verlaat het. Rusland se Staatsondersoekkomitee het gesê Sarvarov het aan sy beserings beswyk. Die komitee sê een van die oorsake wat ondersoek word, is dat die bom vermoedelik deur Oekraïense spesiale dienste geplant is. Daar was geen onmiddellike kommentaar van Oekraïne nie.
# Krieket: Australië het ‘n oorwinning van 82 lopies teen Engeland op die vyfde dag van die derde toets om die As behaal om met 3-0 in die reeks voor te loop en die As-trofee te behou, met nog twee toetse wat oorbly. Engeland moes ‘n wêreldrekordtelling van 435 lopies jaag om te wen en het dapper voortgekolf in die tweede sessie in Adelaide, maar moes op 352 die knie buig. Engeland het nou die stryd om die As vir die vierde agtereenvolgende toer in drie wedstryde verloor terwyl hulle in 16 van hulle laaste 18 toetse in die land die onderspit gedelf het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-59-sent teen die euro en 22-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-699-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-408-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….