Nuus 09:00
BULLETIN 22 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die herstel van verhoudings met die VSA sal verstandige optrede en strategiese dringendheid verg
# Cosatu verwerp ‘n voorgestelde 4,1-persent salarisverhoging vir openbare ampsdraers
# En oorstromings in dele van Tshwane eis ‘n slagoffer
# Die adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Alexandra Abrahams, sê ‘n opsetlike waninligtingsveldtog oor ‘n wit volksmoord in die land ondermyn Suid-Afrika se bilaterale betrekkinge met Amerika. Die verhouding tussen die twee lande is gespanne oor president Donald Trump se valse oortuiging van ‘n volksmoord, sy uitnodiging aan wit Afrikaners om skuiling in die VSA te soek, en die verhindering van Suid-Afrika om aan die G20 deel te neem. Abrahams sê dit sal verstandige optrede, menslikheid en strategiese dringendheid vereis om die land se verhouding met sy tweede grootste handelsvennoot te herstel.
# Die vakverbond Cosatu verwerp die voorgestelde 4,1-persent salarisverhoging vir politici en ander openbare ampsdraers. Die Onafhanklike Kommissie vir die Vergoeding van Openbare Ampsdraers se aanbeveling beteken salarisverhogings in die 2025/2026-boekjaar vir lede van die Kabinet, Parlement, provinsiale wetgewers, munisipale rade, regeringskommissies en die regbank. Cosatu-woordvoerder Matthew Parks beskryf die aanbeveling as toondoof en moreel onverdedigbaar:
# Een persoon het in Olievenhoutbosch verdrink nadat hewige donderstorms die naweek wydverspreide ontwrigting en oorstromings in dele van Tshwane veroorsaak het. Berigte van oorstroomde huishoudings en ontoeganklike paaie wat opgeruim moet word en waar verkeersowerhede moes ingryp, is uit verskeie oorde, insluitend Centurion en Temba, ontvang. ʼn Woordvoerder van Tshwane-nooddienste, Nana Radebe-Kgiba, sê hulle het in alle streke hoërisiko-gebiede geïdentifiseer:
# Israel het 19 nuwe Joodse nedersettings in die Wesoewer goedgekeur wat die getal nuwe nedersettings oor die afgelope paar jaar op 69 te staan bring. Die nedersettings word volgens internasionale wet as onwettig beskou. Die verregse minister van Finansies, Bezalel Smotrich, sê die Israelse regering keer die vestiging van ʼn Palestynse staat, wat hy ʼn terreurstaat noem. Volgens die organisasie, Peace Now, toon syfers die aantal nedersettings in die Wesoewer het onder Israel se huidige regering met byna 50-persent toegeneem.
# Sokker: Die gasheerland Marokko het gister in Rabat hulle Afrikabeker-toernooi se Groep A-veldtog met ʼn gemaklike 2-0-sege oor die Comoro-eilande afgeskop. Die speler van die wedstryd, Brahim Díaz, en Ayoub El Kaabi se doele in die tweede helfte het die tuisspan, wat in 1976 laas die AFCON gewen het, se oorwinning beklink. Vandag spook Marokko se ander Groep A-teenstanders, Mali en Zambië, sake uit. Suid-Afrika takel Angola, terwyl die sewemalige kampioene van Egipte en Zimbabwe kragte meet.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-60-sent teen die euro en 22-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-984-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-399-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….