Nuus 13:00
BULLETIN 21 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie soek minstens 12 verdagtes ná ‘n massa-skietery by ‘n Bekkersdal taverne
# EThekwini waarsku die publiek oor besoedeling met drie Durbanse strande wat heropen
# En, krieket: Australië fnuik Engeland se terugvegpoging en wen die As met 82 lopies in Adelaide
# Die adjunk-polisiekommissaris van Gauteng, Fred Kekana, sê minstens 12 onbekende verdagteswas betrokke by die massaskietery by die Kwanoxolo-taverne in Bekkersdal, wes van Johannesburg. Nege verdagtes was met pistole gewapen en een met ‘n AK-47-geweer. Kekana het aan Newzroom Afrika gesê nege mense, insluitend twee vroue, is dood, terwyl tien ander ernstig beseer is. Hy sê die motief bly onbekend en ondersoeke duur voort:
# Die eThekwini Munisipaliteit versoek inwoners en toeriste om strande nie te besoedel nie na die heropening van eThekwini, Country Club en Battery strande. Blue Lagoon is steeds gesluit weens besoedeling. Dit bring die aantal oop swemstrande op 22 te staan. Die stad sê lewensredders en wetstoepassers is aan diens om veiligheid te verseker. ‘n Woordvoerder, Simphiwe Ndlovu, waarsku in ‘n onderhoud met Newzroom Afrika dat besoedeling en waterbesmetting tot verdere sluitings gedurende die feestyd kan lei:
# Die Minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, betreur die heengaan van die Adjunkdirekteur van Openbare Vervolging in Johannesburg, Riegal Du Toit. Die woordvoerder van die ministerie, Terrence Manase, sê Du Toit word onthou vir sy toewyding en bydrae tot die regstelsel. Manase sê die minister het Du Toit se betekenisvolle werk in die breër nastrewing van geregtigheid geprys:
# Rugby: Die Haaie het gister op dramatiese wyse ‘n oorwinning van 21-12 teen die Bulle in hulle Verenigde Rugbykampioenskaps-kragmeting op ‘n volgepakte Kingspark-stadion behaal. Die Haaie was die grootste deel van die wedstryd agter met die Bulle wat uitstekend geskrum het, maar het laat in die wedstryd begin teruggeveg. Handré Pollard het met vier strafskoppe geslaag om die besoekers te laat voorloop, maar ‘n onderskepdrie van 70 meter deur Hakeem Kunene het die gashere in die spel gehou. Drieë laat in die wedstryd deur Siya Kolisi en Edwill van der Merwe het die oorwinning vir die Durbaniete beklink.
# Krieket: Australië het ‘n oorwinning van 82 lopies teen Engeland op die vyfde dag van die derde toets om die As behaal om met 3-0 in die reeks voor te loop en die As-trofee te behou, met nog twee toetse wat oorbly. Engeland moes ‘n wêreldrekordtelling van 435 lopies jaag om te wen en het dapper voortgekolf in die tweede sessie in Adelaide, maar moes op 352 die knie buig. Engeland het nou die stryd om die As vir die vierde agtereenvolgende toer in drie wedstryde verloor terwyl hulle in 16 van hulle laaste 18 toetse in die land die onderspit gedelf het.
# En ten slotte: Kylie Minogue het haar eerste Kersfees-nommer een in Brittanje gehaal met haar treffersnit XMAS [uitgespreek EX-EM-AY-ES]. Die 57-jarige Australiese popster is die eerste vroulike solo-kunstenaar in 12 jaar wat die gesogte plek inneem. Minogue het ook die eerste vrou geword wat nommer een-enkelsnitte oor vier verskillende dekades gehad het. Haar sukses volg ná twee agtereenvolgende jare waarin Last Christmas deur Wham! bo-aan was. XMAS word in die enkelsnitlys gevolg deur Last Christmas, met Mariah Carey se All I Want For Christmas Is You derde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….