Nuus 09:00
BULLETIN 21 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minstens nege mense dood in Bekkersdal-taverne massaskietery
# Masemola bevestig Getuie D se moordsaak is ingewikkeld
# En sewe olifante dood in ‘n treinongeluk in Indië
# Minstens nege mense is dood en verskeie ander beseer in ‘n massaskietery by die Kwanoxolo-taverne in Bekkersdal, wes van Johannesburg. Die polisie sê onbekende gewapende mans het die lokaal binnegestorm en losgebrand, met sommige slagoffers wat ook in nabygeleë strate geskiet is. Geen arrestasies is gemaak nie en die motief bly onduidelik. Ondersoeke duur voort, en die polisie doen ‘n beroep op mense om na vore te kom met inligting wat tot ondersoek kan bydra.
# Die Nasionale Polisiekommissaris, Fannie Masemola sê die moordsaak van die Madlanga-kommissie se “Getuie D”, Marius van der Merwe, is ingewikkeld. Van der Merwe is vroeër die maand buite sy huis in Brakpan, Ekurhuleni doodgeskiet. Hy het voor die kommissie getuig en die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkwanazi, by misdadige aktiwiteite betrek. Masemola sê die ondersoek is aan die gang en verdagtes is geïdentifiseer. Die moord word met ander sake verbind en Masemola sê arrestasies sal in samewerking met die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat uitgevoer word.
# Die MK-party het bevestig sy interne ondersoek na sy geskorste eerste adjunkpresident en parlementêre leier, John Hlophe, sal na verwagting teen die einde van Januarie 2026 afgehandel wees. Die hoof van die MK-party se presidensie, Magasela Mzobe, sê Hlophe bly ‘n partyleier en parlementslid ten spyte van die skorsing. Hy het bevestig dat Hlophe volle samewerking belowe het en beklemtoon dat die stap voorsorg tref en daarop gemik is om kollektiewe leierskap te handhaaf.
# Sokker: Die Bafana Bafana-kaptein Ronwen Williams sê hy voel nederig om Suid-Afrika in sy derde agtereenvolgende Afrikabekertoernooi te verteenwoordig. Die 2025-toernooi in Marokko volg op sy insluiting in 2019 en 2023, wat van hom die enigste huidige groeplid maak wat die mylpaal bereik het. Die openingseremonie vind vandag plaas, met Suid-Afrika wat môre teen Angola in ‘n Groep B-wedstryd te staan kom. Hy sê AFCON is ‘n onskatbare, veeleisende ervaring:
Die Soil of Africa-voorspraakbeweging verwelkom intussen die Afrikabekertoernooi as ‘n kragtige platform vir eenheid, vrede en ekonomiese integrasie in Afrika. Die openingseremonie vind vandag plaas. ‘n Woordvoerder, King Bongani Ramontja, sê sokker het in die verlede gemeenskappe bymekaar gebring en kan solidariteit op die vasteland bevorder. Hy vra leiers om AFCON te gebruik om intra-Afrika-handel, jeugbemagtiging en ekonomiese waardigheid te bevorder, as ‘n verenigde Afrika, bo sport:
# En ten slotte, sewe olifante is dood en een beseer toe ‘n trein op pad na Delhi vroeg gisteroggend met ‘n trop in noordoos-Indië gebots het. Die voorval het plaasgevind op ‘n plek wat nie ‘n aangewese olifantkorridor is nie. Olifantkorridors is lineêre, smal, natuurlike habitatverbindings wat olifante toelaat om tussen veilige habitats te beweeg sonder om deur mense versteur te word. Die lokomotiefbestuurder het volgens berigte die noodremme gebruik toe hy die trop sien, maar die olifante het na die trein gehardloop. Die botsing het veroorsaak dat die lokomotief en vyf waens van die trein ontspoor het, maar geen mense is beseer nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….