Nuus 08:00
BULLETIN 20 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nkabinde-ondersoekpaneel verwerp Shamila Batohi se versoek om Chauke se geskikheidsvoorwaardes te verander
# Cosatu is optimisties oor die aanstelling van die Nasionale Dialoog-reëlingskomitee
# En krieket: Die Proteas sluit die jaar af met ‘n T20-reeksnederlaag teen Indië
# Die Nkabinde-ondersoekpaneel wat die geskorste Gautengse Direkteur van Openbare Vervolging, Andrew Chauke, ondersoek, het ‘n versoek deur die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, verwerp om die opdrag te wysig. Batohi het erken sy het nie president Cyril Ramaphosa se finale bepalings hersien voordat die ondersoek begin het nie. Tembeka Ngcukaitobi, Chauke se prokureur, het aangevoer dit sou onbillik wees om die bepalings nou te verander, en die paneel het saamgestem. Die ondersoek sal voortgaan onder die oorspronklike bepalings en bewerings ondersoek dat Chauke polities gemotiveerde aanklaersbesluite geneem het.
# Cosatu verwelkom die aanstelling van die Nasionale Dialoog-reëlingskomitee. Die vakbond sê die komitee sal ‘n belangrike rol speel in die bemiddeling van besprekings tussen die regering, sakewêreld en arbeidsektor om dringende maatskaplike en ekonomiese uitdagings aan te spreek. Matthew Parks van Cosatu sê hulle glo die dialoog sal samewerking bevorder, belanghebbendes se betrokkenheid verbeter en bydra tot die ontwikkeling van beleide wat werkers en die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap bevoordeel:
# Die DA sê die Wes-Kaap het ‘n tekort van meer as twee-duisend polisiebeamptes, wat beteken gemeenskappe word nie beskerm nie en is in gevaar. Volgens die party is slegs 12-duisend-908 uit ‘n totaal 15-duisend goedgekeurde beamptes aktief, en 471 polisievoertuie is buite werking. Benedicta van Minnen van die DA waarsku dit dra by tot hoë misdaad, met vier-duisend-539 moorde vanjaar, en doen ‘n beroep op die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, om dringend op te tree:
# ‘n Wêreldwye hongermonitor sê daar is nie meer hongersnood in Gaza nie. Dit volg nadat toegang tot humanitêre en kommersiële voedselaflewerings verbeter het na ‘n brose skietstilstand in Oktober in die oorlog tussen Israel en Palestynse Hamas-militante. Die jongste opname deur die Geïntegreerde Voedselsekuriteitsfase-klassifikasie volg vier maande nadat berig is dat byna ‘n kwart van die Palestyne in die Gazastrook hongersnood ervaar. Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, Antonio Guterres, waarsku hoewel hongersnood afgeweer is, is daar steeds druk en die situasie in die enklawe bly kritiek.
# Krieket: Die Proteas het hul jaar op ‘n lae noot afgesluit nadat hulle gister met 30 lopies teen Indië verloor het in die vyfde en laaste T20-wedstryd op die Narendra Modi-stadion in Ahmedabad. Die Proteas het die loot gewen en gekies om te boul, maar kon nie die Indiese aanslag keer nie. Quinton de Kock met 65 van 35 balle en Dewald Brevis met 31 van 17 het die Suid-Afrikaners aanvanklik goed laat lyk, maar hulle het in die tweede helfte sleg teruggesak om die T20-reeks met 3-1 te verloor. Dit volg na ‘n 2-0 Toetsreeksoorwinning en ‘n 2-1 Eendagreeksnederlaag.
# En ten slotte: Die Nasionale Seereddingsinstituut waarsku mense om hierdie naweek versigtig langs die kus te wees aangesien die springgety vandag sy hoogtepunt bereik. Hoër en laer getye sal strome sterker maak, wat die risiko’s vir swemmers, hengelaars en stappers verhoog. Andrew Ingram van die instituut beveel aan om slegs by strande met lewensredders te swem, reddingsbaadjies te dra tydens hengel- of bootvaarte, staptogte veilig te beplan en getye en die weer voor die tyd na te gaan:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….