Nuus 18:00
BULLETIN 19 Desember 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Verdagte in die moord op DJ Warras sal teen Maandag onder arres wees
# Kaapstad gaan ‘n vennootskap aan om veilige tradisionele inisiasiepraktyke te ondersteun
# En, City Power gaan nie sabotasie van infrastruktuur duld nie
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê ‘n verdagte in die moord op Warrick ”DJ Warras” Stock sal voor Maandag in hegtenis geneem word. Stock is Dinsdag voor die gekaapte Zambezi-gebou in Johannesburg vermoor. Sy familie en vriende het vandag ‘n gedenkdiens in Sandton gehou. Masemola het bevestig die polisie het ‘n bekende verdagte geïdentifiseer en is op die persoon se spoor:
# Die Stad Kaapstad het goedkeuring gekry om met ‘n eerste van sy soort memorandum van ooreenkoms met die Wes-Kaapse regering saam te werk om veilige en menswaardige inisiasiepraktyke in die metro te ondersteun. Die goedkeuring laat die metro toe om inisiasieskole by te staan met dienste soos betroubare water en infrastruktuurondersteuning. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie Zahid Badroodien sê die beraamde koste is 518-duisend-100-rand per jaar:
# City Power sê individue wat bande met kontrakteurs het en met sabotasie aan infrastruktuur verbind word, is kommerwekkend en skep ‘n groot vertrouensbreuk. Ses individue wat bande met ʼn City Power-kontrakteur het, is tydens ʼn intelligensie-gedrewe sekuriteitsoperasie in Fordsburg vasgetrek nadat hulle na bewering ʼn ondergrondse koperkabel afgesny het. City Power se woordvoerder, Isaac Mangena, sê die soort misdadigheid ondermyn dienslewering en openbare veiligheid:
# Krieket: Die uitvoerende hoof van Krieket Nieu-Seeland, Scott Weenink, het bedank ná verskille met verskeie verenigings en die spelersvereniging. Hy sal einde volgende maand die posisie verlaat nadat hy dit twee-en-‘n-half-jaar beklee het. Weenink sê hy wil nie voortdurende onbestendigheid skep deur voort te gaan sonder die steun van sekere sleutelbelanghebbendes nie. Sy bedanking volg op die nuus dat planne beraam word om teen Januarie 2027 ‘n franchise-gebaseerde T20-liga, NZ-20, bekend te stel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-76-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 22-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-995-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-329-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 59-dollar-90-sent per vat.
# En laastens, walvis-asem wat deur hommeltuie versamel is, het leidrade gebied oor die gesondheid van boggelrugwalvisse en ander walvis-spesies in die Noordpool. Navorsers het hommeltuie met steriele petribakkies gebruik om druppels vas te vang uit die walvisse se uitasemings, gekombineer met velbiopsies wat geneem is. Die virus is hoogs aansteeklik en versprei maklik tussen dolfyne, walvisse en tornyne, wat kan lei tot ernstige siektes en massavrektes. Dit kan tussen spesies versprei en deur oseane beweeg, en hou ‘n beduidende bedreiging in. Navorsers hoop die ontdekking sal help om dodelike bedreigings vir seelewe op te spoor voor dit verder versprei.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….