Nuus 17:00
BULLETIN 19 Desember 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Grensbestuur is op hoë gereedheidsgrondslag met toename in oorgrensverkeer en suksesvolle wetstoepassing
# Beduidend minder padsterfte in Suid-Afrika vir die feestyd
# En, Tshwaku sê gekaapte Zambezi-gebou in Johannesburg se dienste gaan afgesny word ná ‘n klopjag
# Die Grensbestuursowerheid het ‘n beduidende deurbraak in wetstoepassing aangemeld. Woordvoerder Mmemme Mogotsi sê grens-wetstoepassing by Kosibaai in Mpumalanga het gister twee Mosambiekse burgers onderskep wat Suid-Afrika van Mosambiek binnegekom het. Sy sê ‘n deursoeking van hul voertuig het gelei tot die terugvind van 46 bedrieglik-gestempelde Mosambiekse paspoorte. Sy sê 34-duisend-890 rand kontant is gevind:
# # Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het ‘n afname van 21-persent in padsterftes sedert die begin van hierdie maand aangekondig. Sy het die padveiligheidsverslag vir die middel van die feestyd in Somerset-Wes, Kaapstad, vrygestel. Creecy sê sterftes op die paaie het van 545 verlede jaar tot 431 vanjaar gedaal. Sy vra motoriste egter om versigtig te wees, met die Wes-Kaap wat reeds 66 sterftes in 55 ongelukke aangeteken het:
# Die Johannesburgse burgemeesterskomiteelid vir Openbare Veiligheid, Mgcini Tshwaku, sê water- en elektrisiteitstoevoer sal afgesny word na die gekaapte Zambezi-gebou in die middestad. Dit volg na ‘n intelligensie-gedrewe klopjag ná die moord op DJ Warras. Owerhede het die identiteit van die inwoners nagegaan, die gebou deursoek vir vuurwapens en onwettige bedrywighede, en ses persone van belang word aangehou. Hy bevestig nie-betalende en onwettige inwoners word verwyder om die orde te herstel:
# Motorsport: Die viermalige Formule Een-wêreldkampioen, Max Verstappen, sal volgende seisoen met die nommer drie op sy Red Bull-motor jaag. Die Nederlander het die gesogte nommer een aan Lando Norris van McLaren afgestaan nadat die Brit onlangs sy eerste titel verower het. Verstappen sê behalwe vir nommer een, was drie nog altyd sy gunstelingnommer en hy het besluit om nie terug te keer na die 33 wat hy voorheen gebruik het nie. Die nuwe seisoen begin die eerste naweek in Maart in Melbourne, Australië.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-78-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 22-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-899-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-333-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 59-dollar-93-sent per vat.
# En ten slotte, wit Suid-Afrikaanse vlugtelinge na Amerika kan dalk ‘n kopie van president Donald Trump se biografie vir kinders ontvang as deel van ‘n verwelkomingspak. Die boek, Donald Trump Biography for Kids: An Inspirational Story of One of America’s Most Famous Presidents, is voorgestel deur ‘n amptenaar wat deur Trump in die Departement van Gesondheid en Maatskaplike Ontwikkeling aangestel is. Die boek beeld Trump uit as ‘n inspirerende figuur wie se lewe ‘n meesterklas in vasberadenheid, veerkragtigheid, selfvertroue en groot drome is. Dit is nie duidelik hoeveel die Amerikaanse regering vir die boek sal moet betaal nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….