Nuus 14:00
BULLETIN 19 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Verslag benadruk die dalende doeltreffendheid van die G20
# ‘n Nasporingstelsel vir lewende hawe gaan ingestel word te midde van die bek-en-klouseer-uitbreking
# En sokker: Die Bafana-vleuel Oswin Appollis is fiks verklaar vir die AFCON-openingswedstryd teen Angola
# ‘n Nuwe verslag oor die G20-beraad wat Suid-Afrika se presidentskap vrygestel het, toon die meeste lede glo die forum se algehele doeltreffendheid het afgeneem, ondanks vordering op sleutelgebiede. Sowat 75-persent van die lede sê die G20 is minder doeltreffend as voorheen, met baie wat ‘n oorvol agenda en te veel sjerpa-werkgroepe kritiseer. Terwyl leierspitsberade en finansiële koördinering matig goed gevaar het, vra lede vir minder werkgroepe en nouer samewerking met globale instellings.
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê die identifikasie- en nasporingstelsel vir lewende hawe word in die tweede week van Januarie ingestel as deel van pogings om bek-en-klouseer te bekamp. Die departement se woordvoerder, Joylene van Wyk, sê die stelsel sal deur geo-plasing bydra om die beweging van ingeënte diere te volg. Sy sê ‘n Artikel 10-skema word ook ingevolge die Wet op Dieresiektes ontwikkel:
Nuus uit die buiteland:
# Namibië se Ministerie van Binnelandse Sake, Immigrasie, Veiligheid en Sekerheid het ʼn maandlange amnestie-tydperk toegestaan vir buitelanders wat hul immigrasiepermit-visums in die land oorskry het. Dit beteken buitelanders sal nie vervolg word, boetes kry of aangehou word nie. Die ministerie se woordvoerder, Rauna Nyorkor, sê alle buitelandse burgers het tot 16 Januarie tyd om by die naaste immigrasiekantoor of grenspos aan te meld:
# Sokker: Die vleuel Oswin Appollis is beskikbaar vir Bafana Bafana se Afrikabekertoernooi-openingswedstryd teen Angola in Marrakesj, Marokko. Hy is Dinsdag hinkepink van die veld af ná Suid-Afrika se oorwinning van 1-0 oor Ghana in ‘n vriendskaplike kragmeting op die Dobsonville-stadion in Soweto. Die 24-jarige het homself as ‘n gereelde speler onder afrigter Hugo Broos gevestig terwyl hy nog by Polokwane City was, voor hy na Orlando Pirates geskuif het. Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging se mediese hoof, Thulani Ngwenya, sê al die spelers is fiks en gesond.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-78-sent teen die dollar, 19-rand-65-sent teen die euro en 22-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-115-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-331-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 59-dollar-31-sent per vat.
# En ten slotte: Die internasionale energie-onderneming BP het Meg O’Neill as sy nuwe uitvoerende hoof aangestel. Sy is die eerste vrou ooit aan die stuur van ‘n groot olie-maatskappy. Dit is ook die vierde bestuurshoof-skommeling binne ses jaar. BP sukkel om sy mededingers in te haal ná korporatiewe terugslae, die uitwerking van oorloë en swak opbrengste van hernubare energie. O’Neill was voorheen uitvoerende hoof van Woodside Energy en sal BP na verwagting teruglei na olie, gas en vloeibare natuurlike gas, te midde van druk deur die aktivisbelegger Elliott Management.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….