Nuus 13:00
BULLETIN 19 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof kritiseer die Padongelukkefonds oor die beskerming van sy voormalige uitvoerende hoof
# SANParke stel ondersoek in na ‘n noodlottige val op die Leeukop-staproete in Kaapstad
# En krieket: Australië is in beheer ná die derde dag in Adelaide
# Die Hooggeregshof in Bloemfontein het die Padongelukkefonds gekritiseer omdat hy sy voormalige uitvoerende hoof, Collins Letsoalo, probeer beskerm het tydens ‘n langdurige hofstryd oor onbetaalde skadevergoeding. Die saak behels die Zimbabwiese burger, Kazibone Mlambo, wat in 2023 meer as 2,7-miljoen-rand toegeken is in ‘n derdeparty-eis teen die fonds vir beserings in ‘n motorongeluk. Regter Johannes Daffue het bevind die fonds het hofbevele oortree. Hy het gelas betaling moet binne 60-dae plaasvind, maar ‘n versoek verwerp om Letsoalo tot 30-dae tronkstraf te vonnis, met verwysing na prosedurele verwarring.
# Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, sê die beveiliging van die middestad kry steeds voorkeur te midde van kommer oor verval en hoë misdaadvlakke. Dit volg op die moord op die mediapersoonlikheid Warrick Stock naby die Carlton-sentrum vroeër die week. Morero het sy naasbestaandes besoek. Sy woordvoerder, Khathutshelo Mulaudzi, sê hy het hom weer verbind tot die instelling van maatreëls om misdaad- en wetstoepassingsuitdagings aan te pak, en beklemtoon misdaadvoorkoming is ‘n sleutelfokus:
# ‘n Stapper is dood na hy van ‘n roete op Leeukop in die Tafelberg Nasionale Park in Kaapstad geval het. Nooddienste het onmiddellik gereageer, maar kon nie die stapper red nie. JP Louw van SANparke sê die saak is aan die polisie oorhandig vir ondersoek. Hy het Wildernis-soek en -redding, SANParke se veldwagters, SkyMed en ander bedank wat gehelp het:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het ‘n jaarlikse verdedigingswetsontwerp van byna 17-duisend-miljard-rand bekragtig, ongeag bepalings wat nuwe hulp aan Oekraïne bied en sy vermoë raak om Amerikaanse betrokkenheid by Europese verdediging te verminder. Die omvattende wetgewing bevat alles vanaf die hoeveel skepe, vliegtuie en missielstelsels wat gekoop word, tot ‘n salarisverhoging vir soldate, en hoe om geopolitieke bedreigings aan te pak. Die Withuis se aankondiging was ‘n stille aangeleentheid, sonder ‘n seremonie of verslaggewers.
# Krieket: Australië het ‘n voorsprong van 356 lopies na die derde dag van die derde toets om die As teen Engeland in Adelaide. Die gasheer het vanoggend die besoekers se laaste twee eerstebeurt-paaltjies geneem – kaptein Ben Stokes vir 83 en Jofra Archer vir 51 – na ‘n vennootskap van 106 om die negende paaltjie. Engeland het op 286 geëindig na Australië se 371. Die Aussies was met uitskeityd op 271 vir vier. Die situasie is netelig vir Engeland, wat reeds die eerste twee toetse verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-76-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 22-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-895-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-326-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 59-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….