Nuus 11:00
BULLETIN 19 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika soek duidelikheid oor Amerika se aantygings oor intimidasie en paspoortlekkasies
# Die Departement van Landbou het vertroue in die nasionale strategie om bek-en-klouseer te bekamp
# En sokker: SAFA maak gereed vir ‘n groot finansiële hupstoot ná Bafana se kwalifisering vir die Wêreldbekertoernooi
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê Suid-Afrika bly verbind tot eerbare en deursigtige diplomasie met Amerika. Washington het Pretoria beskuldig van beweerde aanhouding van Amerikaanse amptenare en die vrystelling van paspoortinligting na ‘n klopjag op ‘n vlugtelingsentrum in Johannesburg en het dit beskryf as teistering en intimidasie. Die departement se woordvoerder, Chrispin Phiri, sê Suid-Afrika sal nie onderhandel oor die oppergesag van die reg nie:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê die departement se ministeriële raadgewende taakspan vir voorkoming en beheer van dieresiektes stel ‘n bepalende, feit-gedrewe meesterplan in vir die bekamping van bek-en-klouseer. Die siekte kom tans in sewe provinsies voor, met die meeste gevalle in KwaZulu-Natal. Die departement se woordvoerder, Joylene van Wyk, sê Suid-Afrika het nou ʼn tegnies goeie manier gevind om sy doelwit van ʼn bek-en-klouseer-vrye status te bereik:
# Vier van die ses mense teen wie Warrick ‘DJ Warras’ Stock beskermingsbevele gehad het, is aangekeer vir ondervraging in verband met sy moord. Dit volg nadat die Johannesburgse metropolisie gisteraand ʼn klopjag uitgevoer het op Zambesi-huis in die middestad. Die burgemeesterskomiteelid vir Openbare Veiligheid, Mgcini Tshwaku, sê Stock het ʼn kontrak gehad om hierdie agtverdieping-gebou te beveilig:
Nuus uit die buiteland:
# Leiers van die Europese Unie het ooreengekom op ‘n multi-miljard-randse befondsingsplan vir Oekraïne se militêre en ekonomiese behoeftes vir die volgende twee jaar. Oekraïne se president, Volodimir Zelensky, het gewaarsku Kiëv sal binne ‘n paar maande bankrot wees en gedwing word om die produksie van hommeltuie te staak. Die EU-pakket sal voorlopig befonds word met lenings en nie onttrek word uit bevrore Russiese bates in die groepering nie. Die president van die EU-raad, Antonio Costa, sê Oekraïne sal eers die lening terugbetaal wanneer Rusland herstelkoste betaal het.
# Sokker: Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging gaan ‘n groot finansiële hupstoot kry nadat Bafana Bafana vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Amerika, Mexiko en Kanada gekwalifiseer het. Onder FIFA se uitgebreide prysstruktuur sal elke kwalifiserende land minstens nege-miljoen-rand ontvang, plus voorbereidingsbefondsing, wat altesaam sowat 175-miljoen-rand beloop. Dit is Suid-Afrika se eerste deelname aan die toernooi sedert 2010, en verlig SAFA se finansiële druk, terwyl spelers ook regeringsbonusse sal ontvang.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 22-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-880-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-325-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 59-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….