Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA versoek Mantashe om die name bekend te maak van vulstasies in die Wes-Kaap wat afgewaterde diesel verkoop
# Minister Mchunu dring aan op eenheid in die watersektor om dienslewering voorop te stel
# En, sokker: Die beseerde Salah ondersteun sy spanmaats in die wedstryd teen die Kaap Verde in die Afrikabekertoernooi
# Die DA in die Wes-Kaap doen ‘n beroep op die minister van Minerale Bronne en Energie, Gwede Mantashe, om die vulstasies se name bekend te maak wat afgewaterde diesel verkoop, wat gemeng is met lampolie. ‘n Ondersoek deur die departement het aan die lig gebring 70 vulstasies in die land verkoop twyfelagtige diesel-brandstof aan klante. Die DA-lid, Derrick America, sê hierdie kommerwekkende ontdekking hou ‘n ernstige bedreiging vir voertuigenjins in, en kan moontlik aansienlike meganiese probleme veroorsaak:
# Die minister van Water en Sanitasie, Senzo Mchunu, vra die watersektor om bekwaamheid bo ego te stel, ten einde skoon drinkwater, ‘n basiese mensereg, te verseker. Waterdienste-owerhede het verlede week op ‘n beraad aandag geskenk aan uitdagings soos ‘n afname in watergehalte. Mchunu beklemtoon die belangrikheid van onmiddellike optrede en stel aanbevelings voor soos die vestiging van toegewyde instellings en die aanstelling van betroubare diensverskaffers. Hy sê samewerking kan die watersektor help om positiewe verandering teweeg te bring en fundamentele regte te verseker.
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het aangekondig Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon, kan van 26 tot 28 Januarie registreer om te stem in die komende algemene verkiesing. Die OVK se voorsitter, Mosotho Moepya, beklemtoon die gemak van elektroniese registrasie, vergeleke met vorige jare. Moepya het met Newzroom Afrika gepraat en verduidelik met meer as 600 partye wat op die stembriewe verwag word, het die registrasietydperk ten doel om breë deelname aan die alom betwiste verkiesing te verseker:
# Uganda het die voorsitterskap van die Groep van 77 plus China by Kuba oorgeneem tydens die derde Suidelike spitsberaad in die Speke Resort-konferensiesentrum in Kampala. President Yoweri Museveni sal volgende jaar hierdie belangrike onderhandelings-afdeling van ontwikkelende lande by die Verenigde Nasies lei, wat hulle in staat sal stel om hulle behoeftes te pak en gesamentlike ekonomiese belange te bevorder. Museveni beklemtoon die belangrikheid daarvan om niemand agter te laat nie, en vra die internasionale gemeenskap om geteikende ondersteuning te bied aan lande wat worstel met uitdagings, sonder om voorwaardes te stel.
# Sokker: Die beseerde kaptein van Egipte, Mo Salah, is vol vertroue in sy span se soeke na ‘n oorwinning in vandag se wedstryd in die Afrikabekertoernooi teen Kaap Verde in die Ivoorkus. Hy sal die wedstryd misloop weens ʼn spierbesering wat hy verlede week opgedoen het in Egipte se vorige kragmeting met Ghana. Indien Egipte vir die uitkloprondes kwalifiseer, sal Salah waarskynlik die daaropvolgende wedstryd ook misloop:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-12-sent teen die dollar, 20-rand-81-sent teen die euro en 24-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 40-duisend-771-dollar-13-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-23-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….