Nuus 08:00
BULLETIN 19 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika herbevestig sy soewereine reg om immigrasie af te dwing
# Die Pretoria High School for Girls se verlof tot appèl word van die hand gewys
# En ‘n voormalige NASCAR-renjaer en sy gesin is onder sewe slagoffers van ‘n vliegtuigongeluk
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê die regering gaan nie onderhandel oor sy soewereiniteit en gebruik van regsreëls nie. Amerika beskuldig Suid-Afrikaanse owerhede dat hulle Amerikaanse amptenare aanhou wat besig was om hul pligte uit te voer deur humanitêre hulp aan Afrikaners te bied. Dit volg na ‘n klopjag by ʼn vlugteling-verwerkingsentrum in Johannesburg, waar sewe Keniaanse burgers gearresteer het wat na bewering onwettig vir ʼn Amerikaans-geaffilieerde organisasie gewerk het. Die departementele woordvoerder Chrispin Phiri sê hulle neem ook kennis van bewerings oor die bekendmaking van privaat inligting van Amerikaanse amptenare:
# Die adjunkminister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Prince Zolile Burns-Ncamashe, het onwettige inisiasieskole veroordeel na ʼn toename in sterftes tydens die somer-inlywingsperiode. In die Oos-Kaap alleen is 18 jong mans tot dusver dood terwyl die polisie 45 strafregtelike sake geopen en 31 mense gearresteer het wat onwettige besnydenisse uitvoer en inisiasiewette oortree. Burns-Ncamashe sê die sterftes word hoofsaaklik toegeskryf aan nalatigheid, veral deur die ouers en tradisionele leiers.
# Die beheerliggaam van Pretoria High School for Girls se poging tot appél teen die uitspraak wat toegang verbied tot ‘n verslag van 2024 oor bewerings van rassisme by die skool, is van die hand gewys. Die departement van Onderwys in Gauteng het die verslag aangevra weens bewerings, wat voorheen mikroagressie, genoem is, in ‘n WhatsApp vir slegs blanke leerders. Die Hooggeregshof in Gauteng het ook aansprake van die beheerliggaam verwerp dat ‘n hersiene aansoek nie sonder die verslag kan voortgaan nie en gesê daar is ander wettige maniere om die dokumente in die hande te kry.
# Die voormalige NASCAR-renjaer, Greg Biffle, sy vrou en twee kinders is onder sewe mense wat dood is toe hul vliegtuig in Noord-Carolina neergestort het. Die Cessna C550 het geval en in vlamme uitgebars toe dit by die Statesville-streekslughawe wou land. Ander slagoffers is uitgeken as Dennis Dutton, sy seun Jack, en Craig Wadsworth. Volgens vlugrekords was die vliegtuig geregistreer by ʼn maatskappy wat aan Biffle behoort. Chris Knox van die Noord-Carolina-snelwegpatrollie sê die voorval word ondersoek:
# Rugby: Verenigde Rugbykampioenskapsaksie keer môre terug na Kingspark in Durban wanneer die Haaie die Bulle pak in ‘n plaaslike Derby. Die Haaie se hoof-afrigter, JP Pietersen, het min verander aan sy span wat Saracens verlede week geklop het. Jordan Hendrikse neem op losskakel oor by George Whitehead, en Hakeem Kunene speel heelagter nadat Aphelele Fassi harsingskudding opgedoen het. Die Haaie is vol selfvertroue na die oorwinning van 28-23 oor Sarecens, terwyl die Bulle hulle laaste twee Kampioenebeker-kragmetings met Bordeaux en Northampton verloor het. Afskop is om 6-namiddag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-62-sent teen die euro en 22-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-797-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-319-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 59-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….