Nuus 18:00
BULLETIN 18 Desember 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Staatsdiensvakbond dring aan op taakspan om gekaapte gebou landswyd te herwin
# Kaapse Onafhanklikheidsparty eis dringende optrede teen misdaad en kaping van geboue
# En, verkeersbeamptes in Limpopo onderskep oorlaaide oorgrens-bus in Polokwane
# Die Vereniging van Staatsamptenare doen ‘n beroep op die regering om dringend ‘n spesiale taakspan te stig om die groeiende probleem van gekaapte geboue aan te pak. Die vakbond waarsku hierdie onwettig besette eiendomme stel openbare veiligheid en nasionale soewereiniteit in gevaar en is sentrums vir misdade soos mensehandel, dwelmhandel en onwettige immigrasie. Claude Naiker van die vereniging sê herwonne geboue moet opgeknap en beskikbaar gestel word vir lae-inkomste werkers.
Intussen eis die Kaapse Onafhanklikheidsparty ook dringende oplossings van die regering om toenemende misdaad en kaping van geboue deur die hele land aan te spreek. Dit volg na die moord op Warrick “DJ Warras” Stock Dinsdag in die middestad van Johannesburg. Nicci Van Zyl van CapeXIT sê die omgewing in Johannesburg en Kaapstad veral is ryp vir geweld, dwelmhandel en uitbuiting:
# Verkeersbeamptes in Limpopo het ‘n oorlaaide oorgrens-bus op die N1 in Polokwane vasgetrek. Die Departement van Vervoer en Gemeenskapsveiligheid se woordvoerder, Matome Taueatsoala, sê die 65-sitplekbus het meer as 100 mense vanaf Gauteng na Malawi vervoer. Hy het bevestig die bestuurder is in hegtenis geneem en daar is beslag gelê op die bus wat nou by die provinsiale verkeersbeheersentrum staan:
# President Donald Trump sê Amerika is op die rand van ‘n ekonomiese oplewing soos die wêreld nog nooit voorheen beleef het nie. September se ekonomiese data toon Amerika se inflasiekoers staan die eerste keer sedert Januarie op drie-persent, terwyl verbruikersvertroue die laagste is sedert April. Trump het in die Withuis gesê die wêreld beny Amerika:
# Sokker: Nigerië het by FIFA beswaar gemaak dat die Demokratiese Republiek die Kongo ongekwalifiseerde spelers ingesluit het tydens verlede maand se Afrika-kwalifiseerder vir volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi. Die DRK het met strafskoppe gewen en sy hoop lewend gehou om aan die toernooi in Noord-Amerika deel te neem. Die Nigeriese beheerliggaam beweer verskeie spelers met dubbele burgerskap is goedgekeur om vir die DRK te speel. Hy beweer hoewel hulle deur FIFA aanvaar is, sê die DRK se reëls dat ‘n mens nie dubbele burgerskap mag hê nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-76-sent teen die dollar, 19-rand-69-sent teen die euro en 22-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-300-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-336-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 59-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….