Nuus 16:00
BULLETIN 18 Desember 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nkabinde-ondersoek hersien die lys van getuies
# Sokker: FIFA kondig ‘n verhoging van 50-pesent aan in prysgeld vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi
# En Kaapstad word internasionaal aangewys as voorkeur-bestemming
# Die Nkabinde-ondersoek na die geskorste Suid-Gautengse Direkteur van Openbare Vervolging, Andrew Chauke, se geskiktheid vir die amp het ‘n hersiene formele lys van moontllike getuies ingedien. Dit volg ná die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, verskoon is van kruisondervraging om ‘n regsmening in te win sonder ‘n formele aansoek. Dit het die oorspronklike getuie-volgorde ontwrig. Die ondersoek sal op 26 Januarie hervat namate die paneel die oorblywende getuienisse en nodige tyd bepaal om die sittings af te sluit.
# Die Forum for South Africa veroordeel die sinnelose moord op Warrick Stock, algemeen bekend as DJ Warras. Hy is Dinsdag in die middestad van Johannesburg doodgeskiet in ‘n voorval wat volgens berigte met ‘n uitsetting te doen gehad het. Die leier van die forum, Tebogo Mashilompane, sê wetstoepassingsorganisasies moet beslis optree om te sorg geregtigheid geskied so gou moontlik:
# Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, het ʼn ooreenkoms van verstandhouding met haar Zimbabwiese ampsgenoot onderteken om samewerking in maatskaplike ontwikkeling te versterk. Dit sluit gebiede in soos kinderbeskerming, maatskaplike beskerming van kwesbare groepe, voorkoming en behandeling van dwelmmisbruik, en ondersteuning aan ouer en gestremde persone. Die departement se woordvoerder, Sandy Godlwana, sê die ooreenkoms bou voort op bestaande samewerking tussen die twee lande:
# Sokker: FIFA se raad het ʼn rekord-finansiële bydrae goedgekeur vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Amerika, Kanada en Mexiko. Die kompetisie sal 50-persent meer prysgeld ontvang om onder die 48 deelnemende spanne verdeel te word. Elke span sal minstens 175-miljoen-rand ontvang vir hul deelname aan die wêreldskouspel, terwyl die wenner met 835-miljoen-rand sal wegstap. FIFA se president, Gianni Infantino, sê dis grensverskuiwend wat die beheerliggaam se finansiële bydrae aan die wêreld se sokkergemeenskap betref.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-64-sent teen die euro en 22-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-201-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-323-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 59-dollar-38-sent per vat.
# En ten slotte: Travel and Leisure Asia en US News & World Report het onderskeidelik Kaapstad bo aan hul lys van beste bestemmings van die jaar geplaas. Die Moederstad word erken vir prentjiemooi landskappe, wye oseane, ikoniese landmerke en ‘n verskeidenheid kulture om te beleef. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê die erkenning volg op spesifieke werk om voorkeurmarkte te ontsluit, insluitend Indië:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….