Nuus 15:00
BULLETIN 18 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Activists and Citizens-forum bepleit die uitwissing van misdaadsindikate
# Die Europese Raad besluit oor kritieke finansiering aan Oekraïne
# En krieket: ‘n Fout met tegnologie red Carey se paaltjie in die reeks om die As
# Die Activists and Citizens-forum sê misdaadsindikate het Suid-Afrika se strafregstelsel geïnfiltreer, voer bedrywighede sonder vrees uit en intimideer kritici. Woordvoerder Dennis Bloem noem bewerings wat senior politieke figure, onopgeloste korrupsiesake en vertraagde vervolgings betrek as bewyse van diepgaande infiltrasie. Hy verwys na moorde op verklikkers, insluitend die in onlangse getuienisverwante sake, en waarsku oor ‘n nasionale veiligheidskrisis. Bloem vra owerhede moet dringend verantwoordbaarheid en beslissende optrede instel:
# Die ACDP sê die Stad Johannesburg kon nie daarin slaag om die kaping van geboue deur gewetenlose groepe te voorkom nie. Die party sê die moord op Warrick ‘DJ Warras’ Stock beklemtoon die metro se mislukking om inwoners en eiendomsregte te beskerm. Ronald Harris van die ACDP sê die metro het ‘n swak boustrategie goedgekeur, wat heetemal onvoldoende is om privaat geboue te beskerm:
Nuus uit die buiteland:
# Die Europese Raad stem vandag oor ‘n voorstel vir die aanwending van Russiese bates as finansiering vir ‘n lening aan Oekraïne. Kiëf se finansies kan binne ‘n paar maande opdroog. Die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, sê Europa moet besluit hoe hy die land ekonomies aan die lewe kan hou en verseker dat hy Russiese aggressie kan weerstaan:
# Krieket: Die operateurs van die Snickometer-tegnologie in die reeks om die As erken dat ‘n fout Engeland verhoed het om die Australiër Alex Carey se paaltjie te neem. Hy is nie uitgegee nie nadat die paaltjie-mikrofone ‘n harde geluid opgetel het toe die bal verby sy kolf getrek het en hy uitgevang is, maar die weerkyk het getoon die geluid was vooraf. Carey – en Engeland – meen hy het die bal getref. Die Snickometer se eienaar, BBG Sports, het aanspreeklikheid aanvaar. Krieket Australië se uitvoerende hoof, Todd Greenberg, eis antwoorde.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-64-sent teen die euro en 22-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-140-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-327-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 59-dollar-50-sent per vat.
# En laastens: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het sy seisoenale klimaatvooruitsigte vir die somer van dié maand tot April vrygestel. Voorspellings dui op ‘n verskuiwing na swakker La Niña-toestande, wat na verwagting meer reën in dele van Gauteng, Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, die Vrystaat en Noordwes sal meebring. Dit is voordelig vir waterbronne en landbou, maar die vooruitsigte verhoog ook die gevaar van plaaslike oorstromings, wat meer gemeenskaps-waaksaamheid aanwakker.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….