Nuus 14:00
BULLETIN 18 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Activists and Citizens-forum bepleit die uitwissing van misdaadsindikate
# Rugby: Fouché speel Saterdag sy 100ste wedstryd vir die Stormers
# En die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku oor moontlike donderstorms op Kersdag
# Die Activists and Citizens-forum sê misdaadsindikate het Suid-Afrika se strafregstelsel geïnfiltreer, voer bedrywighede sonder vrees uit en intimideer kritici. Woordvoerder Dennis Bloem noem bewerings wat senior politieke figure, onopgeloste korrupsiesake en vertraagde vervolgings betrek as bewyse van diepgaande infiltrasie. Hy verwys na moorde op verklikkers, insluitend die in onlangse getuienisverwante sake, en waarsku oor ‘n nasionale veiligheidskrisis. Bloem vra owerhede moet dringend verantwoordbaarheid en beslissende optrede instel:
# Die Boubedryf-ontwikkelingsraad is diep bekommerd oor swak toesig en die nie-nakoming van veiligheidstandaarde. ‘n Tussentydse verslag het bevestig dat die Verulam-tempel wat in Redcliff, KwaZulu-Natal, ingetuimel het, nie aan die vereistes voldoen het nie. Dis tot ‘n misdaadtoneel verklaar nadat vyf mense gesterf het. Uitvoerende hoof Bongani Dladla het aan SABC News gesê behoorlike gesondheids- en veiligheidsdokumentasie sowel as streng nakoming is van kritieke belang om toekomstige tragedies te voorkom:
# SANParke het dagbesoekers aan die Krugerwildtuin gevra om aanlyn te bespreek gedurende die feestyd, aangesien hekkwotas ingestel is om toestroming te voorkom. Besoekers moet binne hulle toegekende tydgleuwe aankom, die toepaslike fooie betaal, en verseker dat voertuie geldige nommerplate het. SANParke se woordvoerder, Reynold Thakhuli, sê veldwagters, die polisie en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag sal aan diens wees om veiligheid te verseker:
# Rugby: Die Stormers-stut Neethling Fouché sê hy het ‘n dekade gelede ernstig oorweeg om uit te tree toe hy vir die Bulle gespeel het, en dis ‘n voorreg om Saterdag tuis in Kaapstad sy 100ste wedstryd vir die span te speel in die Verenigde Rugbykampioenskaps-kragmeting met die Leeus. Fouché sê hy het in 2016 deur ‘n baie moeilike tyd gegaan, maar sy Stormers-mal meisie, nou sy vrou, en sy ouers het hom omgepraat. Hy het die volgende jaar by die Stormers aangesluit en nooit weer teruggekyk nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-77-sent teen die dollar, 19-rand-65-sent teen die euro en 22-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-291-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-324-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 59-dollar-55-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê daar is Kersdag-middag ‘n 60-persent kans op buie en donderstorms in dele van Gauteng, Mpumalanga en KwaZulu-Natal, met geïsoleerde buie en donderbuie oor die sentrale en oostelike streke. Die weerkundige Lehlohonolo Thobela sê die voorspelling bly ‘n mediumtermyn-vooruitsig, maar versoek die publiek om waaksaam te bly, die jongste inligting dop te hou en weerwaarskuwings in ag te neem as hulle reis of buitelugbedrywighede beplan:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….